Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jean-Luc wil as flank sy Bok-trui dra

Hokaai eers met praatjies van ’n permanente skuif na slot – flank sal altyd sy voorkeurposisie wees.

Só het die Springbok-losvoorspeler Jean-Luc du Preez uit Manchester aan Rapport gesê nadat hy sy Engelse klubspan, Sale Sharks, op slot moes uithelp weens beserings, onder meer aan Lood de Jager.

“Ek het vanjaar beslis meer wedstryde op slot as op flank gespeel, maar my voorkeurposisie bly steeds flank en dit sal altyd so wees,” het Du Preez gesê.

Nick Isiekwe van Saracens probeer Jean-Luc du Preez van Sale Sharks vasvat in ’n Premierskap-halfeindstryd op 7 Februarie. Foto: getty

Sy tydelike skuif na slot hou hopelik vorentoe vir hom voordele in aangesien hy as ’n veelsydige voorspeler beskou sal word.

As ’n vyfslot moes hy ook die afgelope tyd onder meer aandag aan sy mededinging in die lynstane gee, iets wat ewe nuttig vir hom as ’n seweflank is.

Met De Jager wat die naweek sy terugkeer ná ’n besering gemaak het, hoop Du Preez om gou weer gereeld as ’n losvoorspeler deur Sale Sharks oorweeg te word.

Ná die skouerbesering wat hy in die Wêreldbekereindstryd opgedoen het, was De Jager saam met Faf de Klerk op die bank vir Sale Sharks se kragmeting met London Irish in Manchester. Du Preez het vir oulaas die vyftrui gedra.

Du Preez wil as flank om ’n plek in die Bokgroep meeding. Pieter-Steph du Toit is die voorste seweflank in wêreldrugby, maar die Bokke het nie soveel diepte in dié posisie nie.

“My nommer-een-doelwit op die oomblik is beslis om terug in die Springbokgroep te kom.

Lood de Jager, vir wie Jean-Luc du Preez op slot moes instaan.

“Om vir die Springbokke te kon speel, was vir seker sover die hoogtepunt van my loopbaan.

“Ek wil vir seker weer in die nasionale opset wees. Ek probeer en doen alles wat ek kan om daar uit te kom.”

Die 24-jarige oudleerling van Kearsney College het sover in 13 toetse gespeel, waarvan sy laaste op 23 Junie 2018 teen Engeland op Nuweland was.

Beserings het hom daarna lank van die speelveld gehou.

“Beserings is deel van die spel. Ek het die afgelope twee jaar baie rugby gemis. Ek voel dit het my sielkundig en fisiek getoets. Dit het my geleer dat daar beslis slegte tye gaan wees en dat ’n mens dit moet aanvaar.

“Baie dinge gebeur in die lewe waarvoor mens nie eintlik ’n plan het nie, maar ek probeer sterk bly en op die belangrikste dinge fokus.

“Dís om elke dag beter te word en om in die naweek goed vir die span te vertoon.”

Spel is volgens hom vir seker anders in die Europese weer as toe hy nog verlede jaar vir die Haaie gespeel het.

“Ek het (by Sale Sharks) geleer om myself tyd op die bal te gee en my liggaamsposisie te laat sak. Dís baie belangrik in dié toestande.

“Ek het aan die begin gesukkel want elke span se verdediging is goed. ’n Mens het nie so baie tyd en ruimte hier soos wat ’n mens in Superrugby het nie. Superrugby word ook teen ’n vinniger tempo gespeel.”

Du Preez sê hy’s baie aan sy pa, Robert, verskuldig.

“Sonder die hulp, ondersteuning en raad van my pa sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie. Hy is my steunpilaar en het my al soveel dinge op en van die veld af geleer. Ek is ongelooflik dankbaar vir my pa en ma se ondersteuning.”

Meer oor:  Springbok  |  Sale Sharks  |  Jean-Luc Du Preez  |  Flank  |  Slot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.