Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jeandré het sakie om af te handel
Jeandré Rudolph sit voet in die hoek met die bal onder die arm die afgelope Vrydag teen die Stormers in Mbombela. Foto: Gallo Images

Voordat Jeandré Rudolph die naweek in sy kar klim en die pad vat na sy nuwe tuiste, het hy eers een sakie om af te handel – om die Pumas te help om die Haaie te klop.

Dié twee spanne pak mekaar Saterdag in Mbombela in die Superrugby Unlocked-reeks.

Dit is die 26-jarige Rudolph, ’n losvoorspeler, se laaste wedstryd vir die Laevelders voordat hy Maandag by die Cheetahs inval.

Ek het soveel op en van die veld geleer – en ook my voete gevind in die grootmenswêreld.
Jeandré Rudolph

“Die afgelope drie jaar was ongelooflik. Destyds was ek ’n student wat vir die Luiperds gespeel het. Ek het soveel op en van die veld geleer – en ook my voete gevind in die grootmenswêreld.

“Om te wen, sal ’n gepaste manier wees om dankie te sê vir die geleenthede wat ek hier gekry het. Ek vat Sondag die pad Bloemfontein toe,” sê Rudolph.

Nadat die Laevelders die afgelope naweek so byna daarin geslaag het om die Stormers te klop, is hulle vol vertroue dat die KwaZulu-Natallers omgedop kan word. Dit is natuurlik nie onmoontlik nie, aangesien die Pumas die Haaie in 2019 met 27-20 in die Curriebeker-reeks in Mbombela geskok het – ’n wedstryd waarin Rudolph ook gespeel het.

“Die ouens het baie selfvertroue, die afgelope naweek het bewys dat ons mededingend teen die groot unies kan wees. Ons het besef dat ons ons man teen daardie spanne met Springbokke in hul geledere kan staan.

Jeandré Rudolph toe hy nog vir die Luiperds gespeel het. Foto: Gallo Images

“Maar ek gaan ook nie lieg nie, Vrydagaand (ná die nederlaag teen die Kapenaars) was moeilik vir die ouens, selfs nog tot Maandagoggend.

"Toe was dit egter vergete en het ons begin fokus op hierdie wedstryd,” sê Rudolph, wat een van sy span se uitblinkers teen die Stormers was.

“Dit sal lekker wees om weer ’n vertoning te lewer soos verlede jaar. Ons wil baie graag wen en ek dink ons skuld dit nie net aan ons ondersteuners nie, maar ook aan onsself. Die ouens het baie hard gewerk en ons is goed voorberei.”

Nadat die Haaie die afgelope naweek bloedneus teen die Bulle gekry het, verwag Rudolph allermins dat dit ’n maklike wedstryd gaan wees. Boonop is dit ook ’n tipe tuiskoms vir Brent Janse van Rensburg, hulpafrigter van die KwaZulu-Natallers, aangesien hy die Laevelders in 2017 en 2018 gebrei het.

“Dit was Brent wat my destyds (aan die einde van 2017) hierheen gebring het. Hy is ’n ongelooflike afrigter.

Dit was Brent wat my destyds (aan die einde van 2017) hierheen gebring het. Hy is ’n ongelooflike afrigter.
Jeandré Rudolph

Die Haaie het dalk die afgelope naweek nie heeltemal gespeel soos wat hulle kan nie. Daar sou beslis ’n paar woorde ná daardie nederlaag gewees het,” sê Rudolph.

“So, ek verwag dat hulle met ’n massiewe aanslag gaan kom. Hulle het goeie voorspelers en sal ’n paar plannetjies in die mou voer.”

Meer oor:  Jeandré Rudolph  |  Mbombela  |  Haaie  |  Pumas  |  Slot  |  Rugby  |  Unlocked-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.