Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
TV-ster? Jimmy voel 'bietjie senuagtig'
Jimmy Stonehouse erken hy is ietwat op sy senuwees oor sy buiging op ‘werklikheidstelevisie’.. Foto: Gallo Images

Met rugbykykers wat die naweek ’n kykie sal hê van hoe dinge agter die skerms daar uitsien, spot Jimmy Stonehouse, die Pumas se afrigter, dat hy binnekort sal weet of hy uitgeknip is vir die vermaaklikheidsbedryf.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Donderdag aangekondig dat ’n paar nuwighede beproef sal word wanneer die voorbereidingstoernooi begin. Een daarvan is dat kykers met tye sal kan hoor wat in die afrigterslosies gesê word.

En juis dít maak Stonehouse ’n bietjie senuagtig.

“Ek is vir seker bang. ’n Ou raak soms dinge kwyt op die ingewing van die oomblik. Jy weet, ’n mens raak emosioneel en sê dinge wat nie sag op die oor is nie,” sê Stonehouse.

“Soms is dit nodig om ’n bietjie hard in die kleedkamer te praat. Nou weet mens nie of daar ook ’n kamera en mikrofoon in die kleedkamer sal wees nie.”

Dat daar dalk woordjies kan val, wat ’n persoon of twee kan laat bloos, kan te wagte wees, soos wat in die onlangse dokumentêre reeks Chasing the Sun die geval was.

Dié reeks vertel die verhaal van die Springbokke se Wêreldbeker-triomf in 2019 in Japan.

Daar was tye dat Rassie Erasmus, wat die Bokke na glorie afgerig het, in geen onduidelike taal aan sy spelers gesê het presies wat hy van hulle verwag nie.

Rassie Erasmus (middel) in die afrigterslosies tydens die eindstryd van die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Jokohama, Japan. Foto: Getty Images

Ten spyte van ’n slapelose nag of twee wat Stonehouse dalk vandeesweek het oor sy buiging op “werklikheidstelevisie”, is hy tog positief daaroor. Maar hy maak dit ook duidelik dat hy nie gaan “terughou” nie.

“Ek besef die nodigheid daarvan. Ons bied basies ’n vertoning aan en sulke dinge sal hopelik help om kykers te lok en dat dit vir hulle ook voel dat hulle betrokke is.

“Ons is nog onseker hoe dit gaan werk. Dalk gaan die afrigters permanent ’n mikrofoon moet dra. Dit kan dan interessant raak,” sê Stonehouse.

“Ek sal wel binnekort weet of ek gemaak is vir iets soos dié. Maar ek weet ook dat ek myself steeds gaan uitleef soos altyd.

Ek sal wel binnekort weet of ek gemaak is vir iets soos dié. Maar ek weet ook dat ek myself steeds gaan uitleef soos altyd.
Jimmy Stonehouse

“Dit is egter nie heeltemal iets nuut nie, ek onthou destyds voordat ek na Japan (in 2015) is, het hulle reeds ’n kamera in die kleedkamer gehad. So ek is baie positief hieroor, dit gaan beslis meer blootstelling aan rugby gee.”

• Die eerste skote in die reeks klap Vrydag met die Leeus en Pumas wat mekaar in Johannesburg die stryd aansê.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Jimmy Stonehouse  |  Potchefstroom  |  Pumas  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.