Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Johnson groet Wasps, word afrigter
Ashley Johnson laat loop met die Leicester Tigers se Leonardo Sarto wat hom probeer keer in die spanne se Premierliga-wedstryd verlede seisoen in Leicester. Foto: Getty Images

Die agt jaar wat die gewese Springbok-losvoorspeler Ashley Johnson by die Engelse Premierliga-klub die Wasps deurgebring het, voel soos ’n leeftyd, maar hy is daar hoog aangeslaan en daarom kan hy dié span met ’n lied in die hart verlaat.

Dié oud-Cheetah, wat met sy uittrede haker gespeel het, gaan nou ’n loopbaan as afrigter betree.

Waar in Engeland hy gaan afrig, is nog ’n geheim, maar die 34-jarige Johnson sê dit sal binnekort aangekondig word.

“Ek was gelukkig om hier saam met talentvolle spelers te kon speel en ek kon myself geniet die afgelope agt jaar. Toe ek by die Cheetahs was, het ek nooit gedink ek sal weer speel waar vriendskap eerste kom en dat dit die grondslag van die spankultuur sou wees nie.

Ek was baie gelukkig om so ’n span te kry, om mense te kry wat my regtig gewaardeer en gehelp het om die beste in my na vore te bring.
Ashley Johnson

“Ek was baie gelukkig om so ’n span te kry, om mense te kry wat my regtig gewaardeer en gehelp het om die beste in my na vore te bring.

“Ek is bevoorreg dat ek dít vir agt jaar kon doen,” laat weet Johnson uit Coventry, waar hy en sy gesin woon.

Hy het die Wasps se gewese hoofafrigter, Dai Young, wat tot Februarie vanjaar nog die span afgerig het, geloof dat hy hom in 2012 gekontrakteer het.

’n Jong Ashley Johnson in aksie vir die Wasps teen London Irish in 2013. Foto: Getty Images

Hy het hom verder bedank vir die goeie herinneringe wat daardie kontraktering tot gevolg gehad het en ook vir die goeie vriende wat hy in Coventry kon maak.

Hy sê sy tyd by die Wasps was met tye maar ’n wipwarit, want toe hy hom destyds by dié span aangesluit het, was die span op die drempel van relegasie.

“Ek was saam met die Cheetahs in Nieu-Seeland en het die Wasps se vordering gevolg. In een van hul laaste wedstryde moes hulle een ligapunt gekry het om relegasie vry te spring. Ek het nog vir myself gesê: ‘Ek het by die Wasps geteken en hulle gaan gerelegeer word.’ Ek was baie bly toe my agent my laat weet het hulle het die punt gekry,” sê Johnson.

“Young het daardie jaar by die Wasp begin afrig, en spelers soos James Haskell (voormalige Engelse flank) en Stephen Jones (voormalige Walliese losskakel) het ook daar begin speel.

“Ek wil nie sê ons het dinge omgedraai nie, maar Young het werklik drie of vier goeie spelers ingekry wat ingekoop het in sy plan en met wie hy kon bou aan ’n span.

“Ek is trots om te sê saam met Young het ons die Wasps stadig maar seker weer ’n krag gemaak, totdat ons twee jaar gelede weer in die Premierliga se eindstryd kon speel.

Dit was die uiteinde van al die jare se harde werk en opofferinge. Ek gaan dit mis.
Ashley Johnson

“Dit was die uiteinde van al die jare se harde werk en opofferinge. Ek gaan dit mis,” sê Johnson, wat sy rugby in die Kaap leer speel het.

Sy tyd by die Wasps was veral lekker toe nog Suid-Afrikaners soos Willie le Roux, Juan de Jongh en Nizaam Carr ook daar hul brood en botter gaan verdien het.

Toe kon hy, skerts Johnson, ’n bietjie meer Afrikaans praat nadat hy ’n paar jaar gehad het om aan sy Engels te werk.

Hy was uiteindelik net twee wedstryde kort van sy 200-tal vir die klub, wat vir hom so baie beteken het.

Johnson glo hy kon op die ou einde soveel wedstryde vir die Wasps speel, omdat sy skuif van losvoorspeler na haker sy loopbaan help verleng het.

Peter de Villiers toe hy Zimbabwe afgerig het. Foto: Getty Images

“Ek praat baie van Dai Young, hy is seker een van ’n paar afrigters saam met Peter de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter, wat regtig in my geglo en vir my geleenthede gegee het.

“Toe ek na Young toe gegaan het en gesê het ek dink daaraan om haker toe te skuif om my loopbaan so ’n bietjie te verleng, was hy die een wat gevra het wat ek nodig het, of hy ’n haker-afrigter moet kry om te help met my ingooiwerk, ensomeer.

“Dit kry ’n ou gewoonlik op o.20- of klubvlak, nie op beroepsvlak nie, so ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ek van die Wasps regdeur my loopbaan gekry het.

“Dan gaan speel jy in ’n halfeindstryd teen die Leicester Tigers en jou teenstander is Tom Youngs, wat vir Engeland toetsrugby gespeel het. Kan jy jouself indink hoeveel ’n afrigter in jou moet glo om dit te doen?”

Johnson het die Wasps bedank vir wat hy met rugby by hulle kon bereik, so ook sy vrou, Chrizaan, wat by hom gestaan het en dan is daar nog sy drie seuns, Jordan (11) en die tweeling Zachary en Ryhan (7).

Hy sê hy mis Suid-Afrika en het almal sterkte toegewens in die stryd teen die Covid-19-pandemie.

“Dis great om te sien dat dié tydperk die beste in mense na vore bring, mense help mekaar, kyk na mekaar en lewer bydraes, hoe gering ook al.”

Meer oor:  Ashley Johnson  |  Peter De Villers  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Premierliga  |  Springbok  |  Afrigter  |  Rugby  |  Wasps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.