Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jong Blose blink uit in nuwe posisie

Wat maak jy as jy ’n goeie slot kry wat te kort is vir dié posisie en te stadig is vir flank?

Jy skuif hom stut toe.

Dis presies die paadjie wat die 19-jarige Kwenzo Blose gestap het – tot in die Suid-Afrikaanse o. 20-span wat volgende maand in Manchester, Engeland, in die Wêreldtoernooi gaan speel.

Die jong stut het verlede jaar nog vir die Hoërskool Glenwood se eerstespan op slot gesak. Hy het ook vir KwaZulu-Natal op die nasionale Akademie-week dáár gespeel.

Dit was die talentwerwer, André Tredoux, wat Blose Vrystaat toe gelok het en sy posisionele skuif voorgestel het.

“Ek het vir Kwenzo verlede jaar op die Wildeklawer-superskoletoernooi gesien, waar hy vir Glenwood op die plaasvervangerbank gesit het,” het Tredoux gesê.

“Ek het gedink hy het ’n goeie bou vir ’n stut. Iemand soos Beast Mtawarira het ook slot en flank op skolevlak gespeel,” het Tredoux gesê.

Blose staan 1,85 m in sy sokkies en het maar net 100 kg geweeg toe hy in die begin van die jaar in Bloemfontein aangekom het. Ná harde werk in die gimnasium laat kreun Blose die skaal nou reeds op 110 kg.

“By een van die eerste oefeninge het André gevra of ek al ooit ’n ander posisie as slot gespeel het. Ek sê toe ek het al ’n bietjie flank gespeel, maar ek is nie baie goed daarin nie,” het Blose gesê.

“Hy het toe gesê hulle gaan my geleidelik stut toe skuif, maar ek het toe by die proewe reeds stut gespeel.

“Ná die proewe het ek span gekry by die Young Guns (Kovsies se o. 20-span),” het dié boorling van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal gesê.

Die breier wat vir Blose van stutspel geleer het, is Stephan Jacobs, die Young Guns se skrumafrigter.

“Ek en hy het ná oefening nog langer gebly by die skrummasjien en gewerk aan sy tegniek. Sy werksetiek is ongelooflik en hy is soos ’n spons – hy drink alles in wat ’n mens hom leer,” het Jacobs gesê.

“Sy gesindheid is baie indrukwekkend. Hy is ’n yster.”

Blose is vir ’n jaar by die Vrystaat gekontrakteer, maar hy geniet dit baie hier.

“Ek wil nie êrens anders rugby speel nie, ek geniet die hardlooprugby wat by die Vrystaat gespeel word en die mense is vriendelik,” het die loskopstut gesê.

Blose sluit hom aan by ander stutte van die Vrystaat, soos Ox Nché (2015) en Luan de Bruin (2013), wat ook die Jong Bokkies in die laaste klompie jare verteenwoordig het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.