Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jong Haantjies inspireer Frankryk
Mathieu Bastareaud, kaptein van Frankryk se rugbyspan, hoop hulle kan die Hane se o.20-span Saterdag in Wellington nadoen, wanneer hul in die tweede toets teen die All Blacks te staan kom. Foto: Getty Images

Die Franse o.20-span se oorwinning oor sy eweknie van Nieu-Seeland vroeër die week dien as inspirasie vir Frankryk in die tweede toets teen die All Blacks, sê Mathieu Bastareaud, die Hane se kaptein.

Frankryk het vir die eerste keer in die geskiedenis van die o.20-Junior Wêreldtoernooi ’n plek in die eindstryd verseker toe hy die ‘Baby Blacks’ met 16-7 in die halfeindronde in Perpignan uitgeskakel het.

Die jong Hane se binnesenter, Romain Ntamack, seun van die voormalige Franse vleuel, Emile, het die wendrie gedruk, terwyl hul gedugte agttal die grondslag gelê het.

“Ons het die wedstryd Woensdagoggend gekyk. Dit was ’n goeie wedstryd vir ons. Ons outjies het met passie gespeel en het hul liefde vir die spel gewys,” het Bastareaud in Wellington aan rugbyskrywers gesê.

Dit was ’n goeie wedstryd vir ons. Ons outjies het met passie gespeel en het hul liefde vir die spel gewys,
Mathieu Bastareaud

Frankryk het elke bietjie inspirasie nodig voor die tweede toets in die Westpac-stadion, nadat hy verlede Saterdag in Auckland met 11-52 afgetjop het teen die All Blacks.

“Ek het vir die spelers gesê ons moet met dieselfde passie speel, ons moet vir mekaar speel en saam bloei.

“Dit is waaroor rugby gaan. Ons moet wys ons is ’n span en nie net spelers wat saam gekies word nie.

“Daar is ’n goeie gees in die groep, maar ons moet dit op die veld wys,” sê Bastareaud.

Die Hane is in ’n verbete stryd gewikkel om die tuisspan van ’n onaanvegbare 2-0-voorsprong in die reeks te weerhou.

Jacques Brunel. Foto: Getty Images

Hulle het in die eerste toets vir 50 minute bygehou, maar die damwal het daarna met oorgawe meegegee.

Jacques Brunel, die Hane se afrigter, het vandeesweek vyf veranderinge aan die beginspan gemaak.

Dit sluit onder meer ’n nuwe lostrio in met albei flanke, Fabien Sanconnie en Judicael Cancoriet, wat die trekpas gekry het.

Brunel het reguit gepraat en geen geheim daarvan gemaak dat sy flankpaar hom “ontstel” het met hul swak vertoning nie.

“Die nuwe spelers (Kelian Galletier en Mathieu Babillot) is vars, sal entoesiasties wees en het goeie vertonings vir hul klubs gelewer die seisoen.”

Brunel het sy spelers gewaarsku hulle sal enduit moet voet in die hoek sit om seker te maak hulle het volgende week in Dunedin iets om voor te speel.

Die spanne is:

All Blacks: Jordie Barrett, Ben Smith, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Luke Whitelock, Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock (k), Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Nathan Harris, Karl Tu’inukuafe, Ofa Tu’ungafasi, Vaea Fifita, Ardie Savea, TJ Perenara, Damian McKenzie, Ngani Laumape.

Frankryk: Ben Fall, Teddy Thomas, Mathieu Bastareaud (k), Geoffrey Doumayrou, Gael Fickou, Anthony Belleau, Morgan Parra, Kevin Gourdon, Kelian Galletier, Mathieu Babillot, Yoann Maestri, Bernard le Roux, Uini Atonio, Camille Chat, Dany Priso. PLAASVERVANGERS: Pierre Bougarit, Cyril Baille, Cedate Gomes Sa, Paul Gabrillagues, Alexandre Lapandry, Baptiste Serin, Jules Plisson, Maxime Medard. – Reuters

Afskop: 09:35.

Skeidsregter: Angus Gardner (Aus).

Assistent-skeidsregters: John Lacey (Ier), Luke Pearce (Eng).

TV-skeidsregter: George Ayoub (Aus).

TV: SS 1, GDN.

 
Meer oor:  Mathieu Bastareaud  |  Auckland  |  Hane  |  All Blacks  |  Toets  |  O.20-Wereldtoernooi  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.