Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jong Ruben speel vir sy oupa ná sy dood
Ruben Osborne (nou 19), hier as kind toe sy oupa, Rudolph Osborne (71) vir hom sy eerste paar rugbystewels gekoop het. By hulle is Rudie Osborne, ’n seun van wyle Rudolph, wat aan Covid-19 gesterf het.Foto: Argiewe

’n Cheetah Akademie-rugbyspeler, Ruben Osborne (19) het Vrydag sy eerste rugbywedstryd vir die Cheetah Akademie-span aan sy oupa, Rudolph Osborne (71), ’n groot besproeïngsboer van Hartswater en ook ’n droëland-boer van Kanada opgedra, wat aan Covid-19, gesterf het.

Cheetah Akademie-rugbyspeler, Ruben Osborne (19), (regs) wat Vrydag vir sy geliefde oupa, Rudolph Osborne (71) groot boer van Hartswater rugby gespeel het wat aan die Covid-19-virussiekte gesterf het. By hom is Frans Steyn (links), die Springbokrugby-held wat twee wêreldbekers agter sy naam het.

Wyl die res van die familie Vrydag op Hartswater vir sy oupa ’n troosdiens gehou het, het Ruben sy heel beste op die rugbyveld vir sy oupa gegee by wie hy sy eerste rugbystewels gekry het.

Om dié menslike drama nog hartseerder te maak, was sy oupa se vriend en mede-boer van Hartswater, Hansie Dempers (64), Sondag besig om vir sy lewe in die Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein te veg, ook oor Covid-19 en was Dempers se familie ernstig besig om vir hom te bid omdat sy niere ingee.

Hy moes met ’n noodreddings-helikopter na die hospitaal gebring word.

Dit is in dieselfde hospitaal waar Osborne ’n week gelede gesterf het.

Osborne en Dempers het vir jare 8 km van mekaar in die Vaalhartsbesproeïngskema by Hartswater geboer en op ’n foto hiernaas hou hulle hande by ’n ete vas.

Bennie Osborne, ’n seun van wyle Rudolph, het Sondag gesê sy pa het in 2009 sowat 70% van sy boerdery in Hartswater waar hy met lusern, mielies en koring, geboer het, verkoop en grond in Kanada gekoop waar hy met kanola en koring geboer het.

“Hy het ses maande van die jaar in Kanada geboer en ses maande in die Hartswater-distrik. Hy het elke jaar gesê hy wag eers vir sy verjaarsdag op 19 April voordat hy weer terugkeer Kanada toe.”

Hier is Hansie Dempers (64) wat om sy lewe veg in die Life Rosepark Hospitaal (links) en Rudolph Osborne (71) wat ’n week gelede gesterf het.

Bennie sê sy ma, Bonita is eerste positief vir Covid-19 getoets en was toe in afsondering geplaas. “My pa is ook op 2 Mei positief getoets.”

Wyle Rudolph Osborne (71) , ’n groot boer van Hartswater, wie se troosdiens Vrydag gehou is nadat hy aan Covid-19 gesterf het. By sy foto is Bennie Osborne, (seun) en sy vrou Laurike, Geofrey Gordon, (skoonseun), Bonita, sy vrou, Laura Osborne, (kleindogter) Natalie Gordon, (dogter), Rudie Osborne (seun) en S’Lee Osborne (skoondogter).

Hy het sieker geword en is op 4 Mei in die Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein opgeneem.

“Hy was aanvanklik in die hoësorg-eenheid maar is daaruit ontslaan toe dit beter gegaan het. Drie dae later het hy skielik in die hospitaal gesterf toe sy hart gaan staan het nadat hy weer terug in die hoësorg-eenheid opgeneem was.”

Sy troosdiens was by The Venue op Hartswater, wat aan sy tweelingsuster, Anneline Venter en haar man, behoort, maar die Venters het ook albei die Covid-virussiekte en kon nie die diens bywoon nie.

Osborne word oorleef deur sy vrou, Bonita, seun Ferdinand en sy gesin van Kanada, seun Bennie en sy gesin, nog ’n seun, Rudie en sy vrou, wat albei ook in Hartswater boer, en ’n dogter Natalie Gordon en haar gesin van Somerset-Wes.

Dewald Dempers, Hansie (Dempers) se seun, sê weer die familie het Sondag nagmaal gehou en aanhoudend gebid vir sy pa. “Ons voel so magteloos, want ons kan nie eers vir hom ’n blommetjie vat nie. Ek het darem vir hom gesê ek is lief vir hom en hom bedank vir alles wat hy gedoen het toe die helikopter hom kom haal het. Covid-sterftes is eensaam – die familie wag buite.”

“Die hele Hartswater is vrot van die Covid-19.

“Wessel van der Merwe (66), ook ’n groot Hartswater-boer, het ’n maand gelede aan Covid-19 gesterf en André van Vuuren (64), van die Supa Quick bande-onderneming op die dorp, is ook daaraan dood.”

*Lees nog ’n berig.

Meer oor:  Oupa  |  Covid-Sterfte  |  Rugbywedstryd  |  Afsterwe  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.