Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Joost: ’n Vegter tot die bitter einde
Joost van der Westhuizen vier die Springbokke se Wêreldbeker-triomf in 1995, met Chester Williams (regs) wat nader draf om by die kringetjie aan te sluit. Foto: Getty Images

n “Yster”, “vegter”, “een van die beste skrumskakels in die geskiedenis van Springbok-rugby,” maar ook ’n “stouterd en grapjas,” is hoe Joost van der Westhuizen se spanmaats in die seëvierende Bok-span van 1995 hom sal onthou.

Van der Westhuizen het Maandag sy dapper stryd teen motorneuronsiekte verloor. Hy was 45 jaar oud.

Hy’s ’n yster wat ons diep gaan mis.
Francois Pienaar

Francois Pienaar, Van der Westhuizen se kaptein in die span wat die Wêreldbeker omhoog gehou het, het dié skrumskakel as ’n “buitengewone speler” bestempel.

“Hy’s ’n yster wat ons diep gaan mis. Dit was vir my ’n wonderlike voorreg om saam met hom te kon speel en sy kaptein te kon wees. Hy was in alle opsigte ’n vegter en het nooit opgegee nie.”

Die gewese Bok-haker en afrigter van die Cheetahs, Naka Drotské, het gesê Van der Westhuizen se veggees behoort ’n inspirasie vir alle Suid-Afrikaners te wees.

“Op die veld was hy ’n inspirasie vir baie en daar is geen ander woord as legende om Joost te beskryf nie, dit is wat hy was, ’n legende.

Francois Pienaar stoot Joost van der Westhuizen na die middelkolletjie op Ellispark, waar die 1995-Wêreldbekerspan in 2015 ’n foto as deel van hul 20-jarige reünie geneem het.Foto: Gallo Images

“Hy laat ’n groot nalatenskap agter en ek dink hy was die beste Springbok ooit. Kyk byvoorbeeld toe hy siek was. Jy het hom nooit sonder ’n glimlag gesien nie en daarom sê ek hy moet elke dag vir ons ’n inspirasie wees,” het Drotské gesê.

Dit was nie net in sy geboorteland waar Van der Westhuizen geliefd was nie het Drotské gesê, maar oor die wêreld heen.

Nóg ’n lid van die 1995-span, die stut Os du Randt, het gesê dit is hartseer en emosioneel om van so ’n groot gees afskeid te neem.

Du Randt het gesê wat hy die meeste van Van der Westhuizen sal mis, is sy toewyding tot die spel.

Joost het altyd probeer om alles wat hy doen met oorgawe te doen en dit was kenmerkend in sy stryd teen motorneuronsiekte.
Chester Williams

Dan ook sy menswees en dat hy nie nét ’n rugbyspeler was nie, maar ook iemand weg van rugby na wie daar met respek opgekyk kon word.

“Joost het altyd 100% gegee in alles wat hy gedoen het en dit kon ons nou weer met sy siekte sien. Hy het bly veg tot die einde en dit is ’n bewys van daardie toewyding,” het Du Randt gesê.

Vir Chester Williams, vleuel van die Bokke se ’95-span, was Van der Westhuizen “ ’n ongelooflike mens en vriend” gewees.

“Joost het altyd probeer om alles wat hy doen met oorgawe te doen en dit was kenmerkend in sy stryd teen motorneuronsiekte.

“Met sy J9-stigting het hy nie net geveg vir sy eie lewe nie, maar ook vir ander wat die stryd teen die siekte voer.”

Van der Westhuizen en Hennie le Roux in 2005 by ’n geselligheid waar die 1995-span hul 10-jaar-reünie gehou het.Foto: Gallo Images

Williams sê hy sal Van der Westhuizen ook vir sy ondeundheid onthou. “Hy was een van die stouterds en grapjasse in die span onthou, wat jou soms in die moeilikheid by die afrigter laat beland het.

“Dit is regtig hartseer om te dink dat iemand wat so fikse persoon was deur hierdie siekte platgeslaan kon word.”

Volgens Hennie le Roux, wat binnesenter gespeel het in die 1995-span, het dié nr. 9 die vermoë gehad om respek af te dwing omdat hy so briljant was.

“Hy het geleef vir die groot oomblikke en kon ’n wedstryd binne sekondes op sy kop draai. As jy teen hom gespeel het en hom nie respekteer het nie, sou hy jou spoedig met ’n bloedneus gelaat het. En wanneer jy bevoorreg genoeg was om in dieselfde span as hy uit te draf, moes jy op jou hoede wees, want enigiets kon gebeur.”

* Verslagspan: Stephen Nell, Owen Kock, Francois de Wet, Wim Pretorius

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.