Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Joost was op én weg van veld 'n spanman
Joost van der Westhuizen in die fleur van sy loopbaan in 1999. Sy gewese spanmaats sê hy was nie net ’n briljante speler nie, maar ook ’n spanman deur en deur. Foto: Getty Images

Rugbylui vanoor die spektrum heen het Maandag uit een mond oor hul respek en bewondering vir Joost van der Westhuizen die rugbyspeler én mens gepraat.

Huldeblyke vanuit die plaaslike rugbygemeenskap het vir Van der Westhuizen, wat op 45-jarige ouderdom oorlede is, ingestroom.

Breyton Paulse sê Van der Westhuizen was iemand saam met wie jy oorlog toe kon gaan.Foto: Argief

“Ek onthou toe ek die eerste keer teen Joost op Nuweland in ’n wedstryd tussen die Westelike Provinsie en Blou Bulle gespeel en hy net daardie uitdrukking van vasbeslotenheid in sy oë gehad het,” het die gewese Bok-vleuel Breyton Paulse gesê.

“Dit is waar ek as jong speler besef het watter fenomenale speler hy is. Wat my betref, is Joost die beste skrumskakel wat wêreldrugby ooit sal sien, hy het skrumskakelspel verander met dít wat hy op ’n rugbyveld kon doen.

“Hy het ongeloolfike veggees gehad en is iemand saam met wie jy oorlog toe kon gaan.

“Wie kan dan nou daai duikslag van hom op Jonah (Lomu) in 1995 se Wêreldbeker-eindstryd vergeet? Dit is maar net nog ’n manier waarop Joost gewys het hy is bereid om sy lyf op die spel te plaas vir sy spanmaats.”

Volgens Paulse was Van der Westhuizen ’n besonderse mens wat nooit aan homself gedink het nie, maar altyd sy spanmaats se belange voor sy eie geplaas het.

“Dit was ook opmerklik in sy stryd teen motorneuronsiekte, waar hy alles in die stryd gewerp het om na ’n geneesmiddel vir ander te soek.

“Hy het gehelp om mense van die siekte bewus te maak en ek haal my hoed af vir die ambassadeur wat hy vir sport en Suid-Afrika was.

Die gewese Bok-kaptein Corné Krige sê Van der Westhuizen was ’n speler wat eiehandig die gang van ’n wedstryd kon verander. Foto: Francois Nel

Volgens Corné Krige, Van der Westhuizen se kaptein tydens die Wêreldbeker-toernooi in 2003, was dié skrumskakel “’n spanman uitgeknip”.

“Hy was een van die ouens wat dit gehaat het om te verloor en hy het altyd meer as sy beste vir sy span en sy spanmaats gegee.

“Met die leierskap van die span het hy altyd voor gevat. Hy het net daai X-faktor gehad en kon ’n wedstryd eiehandig op sy kop keer. As ’n mens was hy ook ’n ongelooflike ou en het hy sy spanmaats altyd baie positief gehou op toere.”

Stefan Terblanche, ’n gewese Bok-vleuel, het gesê wat hom die meeste van Van der Westhuizen as speler beïndruk het, was sy vermoë om gapings in verdedigingslinies te vind en drieë te druk.

“Hy was een van rugby se grotes en sy vernuf en talent sal nie weer op ’n rugbyveld gesien word nie.”

Terblanche, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-vereniging (Sarla), het gesê sy Goue Oues-span se nr. 9-trui sal uit respek vir Van der Westhuizen nie weer vanjaar in wedstryde gedra word nie.

Joost van der Westhuizen sal volgens sy gewese spanmaats nooit vergeet word vir sy onbaatsugtige stryd teen motorneuronsiekte nie. Foto: Deaan Vivier

Delarey du Preez, ’n voormalige Springbok-haker, het vertel dat hy saam met Van der Westhuizen in een van sy laaste rugbywedstryde gespeel het.

“Dit was in Dubai vir die SA Legendes-span. Hy was so nederig dat toe ons ’n voorspeler gekort het, hy op flank gaan sak.”

’n Gewese Bok-kaptein, Wynand Claassen, sê iets wat mense vergeet, is dat Van der Westhuizen die kaptein was van die Bok-sewesspan by die Wêreldbeker-toernooi in 1997 in Hongkong.

“As spanbestuurder het ek daar ervaar watter gebore leier hy was. Ons het Nieu-Seeland ’n groot pak in die halfeindstryd gegee en toe met net so drie punte teen Fidji in die eindstryd verloor.

“Joost was ’n speler vir die groot oomblik. Jy hoef net te kyk na die drieë wat hy gedruk het om te weet hier het jy met ’n legende te doen. Sy diens was uitstekend en hy het die vermoë gehad om die gang van ’n wedstryd te verander.

“Hy het oor ’n wonderlike sin vir humor beskik en was altyd reg om poetse te bak vir sy spanmaats. Hy het ook tussen 2005 en 2007 drie jaar lank by Tuks afgerig en was die direkteur van afrigting,” sê Claassen, wat toe voorsitter van Tukkies se rugbyklub was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.