Josh Strauss kom huis toe. Dié Skotse toetsspeler het gister ’n kontrak by die Blou Bulle geteken en sal volgende jaar vir die Bulle uitdraf in die Superrugby-reeks.
Strauss, wat in 2012 by die Leeus weg is, het hom destyds by die Glasgow Warriors aangesluit en tot nou toe in 15 toetse vir die Skotte gespeel. Hy speel deesdae vir Sale Sharks, maar is nie meer in hul toekomsplanne nie.

Josh Strauss
Die Bulle het ook die Springbok-agsteman Sikhumbuzo Notshe in hul visier. Notshe is egter glo ook op die radar van die Leeus.
Alfons Meyer, die Bulle se uitvoerende hoof, het aan Rapport bevestig dat Strauss geteken is.
“Ek het toevallig nou net sy getekende kontrak ontvang,” het hy gesê.
“Dit is ’n groot aanwins en hy sal ’n goeie plaasvervanger vir Duane Vermeulen wees.”
Meyer het bevestig dat die Bulle in Notshe belang stel.
Die 32-jarige Strauss is deel van Skotland se Wêreldbekergroep van 42 spelers wat later tot 31 gesny moet word voordat die rugbyskouspel oor sowat twee maande in Japan begin.
Met die Bulle wat losvoorspelers soos Hanro Liebenberg na die Engelse klubspan Leicester Tigers, Jannes Kirsten na Exeter Chiefs en Duane Vermeulen na Kubota Spears verloor het, het die Bulle ’n slag geslaan met Strauss.
Sale Sharks het die Engelse flank Mark Wilson onlangs vasgemaak, terwyl die Du Preez-broers, Jean-Luc en Dan, eersdaags ook op pad Manchester toe is.
Met Jono Ross, Tom Curry en Ben Curry ook op Sale Sharks se lys van gekontrakteerdes, het die klubspan van Manchester geen tekort aan diepte onder sy losvoorspelers nie.
Met Kwagga Smith wat volgende jaar se Superreeks weens sy kontrak met die Japanse klubspan Yamaha Júbilo misloop, is Notshe in die Leeus se visier.
Smith het ook met Edinburgh ’n korttermynkontrak as hy nie die Bokke se Wêreldbekergroep haal nie.
Notshe moet in belang van sy loopbaan uit die Kaap skuif. Hy is nie meer die Kapenaars se eerstekeuse-agtsteman nie met Juarno Augustus en Jaco Coetzee wat hom gelig het.
Omdat hy nie genoeg speelkans kry nie, het hy selfs sy plek in die Springbok-groep verloor.