
Josh Strauss in aksie vir die Bulle.
Josh Strauss sal gou terug op die rugbyveld wees.
Hy vertrek reeds die naweek na Frankryk, waar hy hom by die klubspan Oyonnax aansluit.
Dié 34-jarige losvoorspeler sal sy rugby vir die volgende sewe maande vir hulle speel.
Hy het die afgelope tyd dikwels saam met die Westelike Provinsie geoefen om fiks te bly nadat sy en die Blou Bulle se paaie vroeër vanjaar geskei het.
Die WP het selfs gepoog om hom te kontrakteer, maar dit het uiteindelik weens ’n verskeidenheid redes nie uitgewerk nie.
Twee daarvan is die geldelike posisie van die Kapenaars en die wyer invloed wat die Covid-19-pandemie op rugby het.
Strauss het ook van minstens twee Engelse klubs belangstelling gehad, maar het op Frankryk besluit.
Strauss het Skotland tussen 2015 en 2019 in 24 toetse verteenwoordig. – Hendrik Cronjé