SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Juan Smith: Klink ’n glasie op ’n grote

As jy 70 toetse vir die Springbokke gespeel het, moet jy darem sekerlik beter as die gemiddelde rugbyspeler wees, of hoe?

Juan Smith soos hy deur sy ondersteuners onthou sal word – vasberade op pad doellyn toe!Foto: Gallo Images

Tog snaaks hoe Juan Smith se naam dan nie eers altyd opkom wanneer rugbyliefhebbers om die braaivleisvuur praat oor die beste flanke wat ooit vir die Bokke uitgedraf het nie.

Dalk is dit omdat Smith nie ’n bos blonde hare gehad het wat hom op die rugbyveld laat uitstaan het nie. Of omdat hy nie sy tong soos ’n kolliehond vir die TV-kameras uitgesteek het as hy ’n drie gedruk het nie.

En as jy mooi dink, het Smith, wat vandeesweek sy uittrede aangekondig het, baie drieë gedruk.

Veral aan die begin van sy loopbaan (hy het sy debuut vir die Bokke in 2003 gemaak) het Smith die bal met krag en vaart gedra.

Hy was ’n skitterende lynstaanspringer, dapper verdediger en het ook nooit gehuiwer om die sogenaamde donkiewerk te doen nie.

Die manne wat saam met hom gespeel het, het hom nog altyd hoog aangeslaan.

“Juan was baie keer die stille vennoot in lostrio’s wat flambojante spelers soos Schalk Burger en Joe van Niekerk ingesluit het, maar hy was die hoeksteen van daardie trio’s danksy sy knaende werkywer,” skryf die voormalige Bok-kaptein John Smit in sy biografie, Captain in the Cauldron.

Smit verklap ook dat een van Smith se byname “Venter” was. Dis ’n verwysing na nog ’n voormalige, hardwerkende Bokflank, André Venter.

“Hulle speel dieselfde posisie, albei kom van Bloemfontein af en het dieselfde rotsvaste waardes,” skryf Smit.

Gert Smal, wat op ’n tyd die Springbokke se voorspeler-afrigter was, vergelyk Smith met nog ’n voormalige grote, Theuns Stofberg.

“Toe ek ’n jongman was, was my ideale nommer7-flank ’n ou soos Theuns Stofberg,” vertel Smal in The Chosen.

“Daar is baie ooreemkomste tussen hom en Juan. Hy dra die bal baie soos Theuns en is ook baie goed in die lynstane.”

The Chosen, geskryf deur Andy Colquhoun en Paul Dobson, lys die “50 grootste Springbokke van alle tye”.

Juan Smith net ná die Springbokke die Wêreldbeker in 2007 in Parys gewen het deur Engeland met 15-6 in die eindstryd te klop.Foto: Gallo Images

Colquhoun en Dobson het hul lys saamgestel deur onderhoude met kenners, spelers, afrigters en keurders te voer.

Smith is Springbok nommer 22 in dié boek. Dis dalk iets wat een van sy voormalige Bok-breiers, Jake White, bly sal maak.

“Hy is ’n held wat nie die lof kry wat hy verdien nie,” het White al gesê. White is ook verstom dat Smith nooit as een van die Internasionale Rugbyraad se Spelers van die Jaar gekies is nie.

Smith het in twee Wêreldbeker-toernooie gespeel en was ook een van die Bokke se grootste uitblinkers in 2009 teen die Britse en Ierse Leeus.

In 2012 het hy verskeie hakskeenopreasies ondergaan en sy speeldae was aanvanklik oor. Maar toe ons weer sien, speel die Cheetah-held vir Toulon en help dié Franse klub om die Europese Kampioenebeker te wen.

Smith het sy laaste speeldae in Japan by Toyota Verblitz, wat deur White afgerig word, deurgebring.

Nou maar hoe hoog slaan jy Smith aan? Sal jy hom in dieselfde asem as ander grotes noem? Watter grotes, vra jy?

Ons kan in die 1800’s begin en legendariese losvoorspelers uitsonder, maar kom ons begin eerder in bietjie meer moderne tye.

Volgens die oud-rugbybaas dr. Danie Craven was Gert Smal (“Gert was uitstaande, een van die beste flanke in wêreldrugby”) en Rob Louw (“Rob het vaart, vaardighede en voorgevoel gehad) twee van die bestes.

Toe ek ’n jongman was, was my ideale nommer7-flank ’n ou soos Theuns Stofberg.

Dawie de Villiers, ’n voormalige Bok-kaptein, het van Jan Ellis en Piet Greyling gehou.

Ellis was volgens hom “’n verbasende beweeglike speler wat soos ’n agterspeler kon hardloop en systap” en Greyling “het homself vir 80 minute soos ’n slaaf gedryf”.

Ander flanke wat deur voormalige sterre in hul biografieë uitgesonder word as die bestes saam met wie hulle gespeel het, is Danie Gerber (oud-Boksenter) wat Rob Louw en Gert Smal uitsonder; Naas Botha (oud-Bokkaptein) wat Burger Geldenhuys en Smal noem; John Smit (oud-Bokkaptein) wie se keuse Schalk Burger en André Venter is; Chester Williams (oud-Bokvleuel) wat baie agting vir Rassie Erasmus en Tiaan Strauss het en Frik du Preez (SA se Speler van die Eeu), wat Piet Greyling en Jan Ellis uitsonder.

Daar is beslis verskeie ander puik losvoorspelers wie se name ook gaan opduik wanneer daar oor die bestes gesels word.

Smith sal dalk nie op almal se lysie wees nie, maar hy verdien dat daar darem ’n glasie op sy loopbaan geklink word.

Bykomende bronne: Springbokkaptein Dawie de Villiers – Roelf Theunissen, Chester – Mark Keohane; In Black and White – Craig Ray; Naas – Edward Griffiths; Danie Gerber – Chris Schoeman; The Craven Tapes – Keith Clayton en Chris Greyvenstein; Frik du Preez: Rugbyreus – Leon Gouws.

Meer oor:  Sport  |  Jake White  |  Gert Smal  |  Springbokke  |  Juan Smith  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.