Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs-toekoms: ‘Julle bang vir ons?’
Cheetahs
Die Vrystaters se 30-jaar-reünie in 1976 in Langebaan. Die leë stoele verteenwoordig spanlede wat reeds oorlede is. Voor (van links na regs): Neels Neuhoff en Barry Wolmarans. Middel: Edrich Krantz, Joggie Jansen, Eben Jansen, Theuns Stofberg, Ross van Reenen, Tiny du Plessis en Gerrie Germishuys. Agter: Dirk Froneman, Gysie Pienaar, Piet Strydom, Jan Schlebush, De Wet Ras en Gerrie Sonnekus. Foto: Jaco Marais

Die Vrystaat se Curriebeker-wenspan van 1976 het nou saam met die Cheetahs in die kryt geklim in hul geveg om hul franchise-status te behou.

Ross van Reenen, een van die slotte in 1976 se eindstryd in Bloemfontein toe die Vrystaters die Westelike Provinsie 33-16 geklop het, het ’n ope brief namens hom en sy spanmaats aan Jurie Roux, die uitvoerende hoof van SA Rugby, en sy bestuurslede oor hul kommer oor die toekoms van die Cheetahs geskryf.

Van Reenen-hulle se standpunt is as die Pro14-reeks volgende jaar tot 16 spanne met vier Suid-Afrikaanse spanne uitgebrei word, dat SA Rugby moet bepaal watter drie franchises saam met die Cheetahs daaraan deelneem.

“Of andersins moet die Curriebekerreeks bepaal wie die vier beste spanne in die land is,” skryf Van Reenen.

“Of is die ander franchises bang vir die Cheetahs?”

Die hardnekkige gerugte dat die Cheetahs moontlik saam met die Kings in ’n vergrote Pro16-reeks weggelaat gaan word, stem Van Reenen-hulle tot groot onrus. Dit lyk of die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers van volgende jaar af in die Noordelike Halfrond sal speel.

“Verstaan ons dit reg? Die span (die Vrystaat) wat oor 125 jaar bekendheid verwerf het vir sy sprankelrugby en die unie wat sekerlik die grootste voedingsbron in Suid-Afrikaanse rugby is, gaan vir die soveelste keer die middelvinger gewys word?

“Ná die Superrugby-fiasko ’n paar jaar gelede toe die Cheetahs die deur gewys is, moes die span maar self sien en kom klaar om toegelaat te word om rugby in die Noordelike Halfrond in die Pro-reeks te kon speel.

“Nou word dit dalk ook van hulle weggevat?”

In die ope brief skryf Van Reenen hy en sy spanmaats is ten volle bewus daarvan dat die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande gebrek aan rugby groot druk op SA Rugby se geldkoffers geplaas het.

Hulle is ook bewus daarvan dat daar waarskynlik nie plek is vir ’n vyfde Suid-Afrikaanse span in die Pro-reeks nie.

Die 1976-span: Voor: S. van Zyl, K. Kritzinger, S. Strydom, W. Hugo, N. Neuhoff, B. Wolmarans, N. Smith. Middel: E. Krantz, J. Jansen, E. Jansen, T. Stofberg, R. van Reenen, T. du Plessis, M. le Roux, R. Stander, G. Germishuys. Agter: D. Froneman, G. Pienaar, P. Strydom, N. van Rensburg, J. Schlebusch, D. Ras en G.Sonnekus.

“Nietemin, voel ons sterk daaroor dat die Cheetahs die reg verdien het om in die Pro-reeks te speel.”

Die Vrystaters het in die drie seisoene waarin die Cheetahs in die Pro14 deelgeneem het 22 (76%) van hul 29 tuiswedstryde gewen.

Soos in 2017 toe SA Rugby die Cheetahs na die syspoor wou rangeer deur hulle uit die Superreeks te weg te laat, is die Vrystaters ook tans die huidige Curriebekerkampioen.

“Wat sê dit van ons belangrikste en oudste plaaslike kompetisie dat die Curriebeker-kampioene pal aan die agterspeen moet suig?

“Gegrond op die gemiddelde posisie op die puntelys het die Cheetahs die afgelope 15 jaar die tweede beste in die Curriebekerreeks gevaar.

“Boonop het hulle tans ’n goeie groep spelers met Wêreldbekerwenners soos Ruan Pienaar en Frans Steyn om die span hulp en leiding te gee.”

Die Cheetahs self het intussen ’n skrywe aan SA Rugby gestuur om duidelikheid oor hul regte in die Pro14 te verkry.

“Daardie helderheid is nodig vir toekomsbeplanning,” het ’n woordvoerder van die Cheetahs gesê.

“Die proses is aan die gang en as deel daarvan win die Cheetahs, soos stellig ander franchises ook, die nodige regsadvies in.”

Rapport verneem die sentrale streekspan het onder meer by ’n senior advokaat ’n regsmening ingewin.

“Ons dra die unie, ons werknemers en ons spelers se belange op die hart en voel dit sal onverantwoordelik wees om nie na hul belange om te sien nie,” het die woordvoerder gesê.

“Uit ’n ekonomiese oogpunt is dit ook in Bloemfontein en die Vrystaat se belang dat die Cheetahs een van die franchises bly.”

Volgens die woordvoerder strook die Cheetahs se optrede met SA Rugby se eie openbare standpunt dat die kontrakte en regte tussen verskillende partye in internasionale en beroepsrugby erken en eerbiedig moet word.

“Die kwessie van regte is deel van die huidige bespreking oor die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby, in Suid-Afrika en in die buiteland.

“Dit bly die direksie en Vrystaat-rugby se verantwoordelikheid om al die regte en belange van Vrystaat-rugby, wat oor 125 jaar opgebou is, op die hoogste vlak en op elke beskikbare wyse te beskerm. Dit is ons plig om die toekoms van Vrystaat-rugby te verseker.”

Die Cheetahs sal soos die Kings en die ander franchises eers op 29 September weet wat hul lot in Pro-rugby is.

SA Rugby se hoofraad sal dan tydens ’n vergadering stem oor watter vier uit die land se huidige ses franchises hul status sal behou.

Meer oor:  Ope Brief  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.