Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior Bokke kyk nou óók oorsee

Die Junior Bokke sal nou ook soos die Springbokke die beste beskikbare spelers vir die Junior Wêreldtoernooi oorweeg ongeag of hulle hier of oorsee speel.

Die Wêreldtoernooi vind vanjaar van 28 Junie tot 18 Julie in Italië plaas met die gasheerland, Engeland en Fidji wat die Junior Bokke se teenstanders in die groepfase is.

“Ek is in kontak met die (oorsese) spelers,” sê Chean Roux, afrigter van die Junior Bokke.

“Daar is al briewe aan die Franse Rugbyunie gestuur. Ons gee nie om waar ’n speler is nie. As hy die beste in sy posisie is, sal hy oorweeg word.”

Jan-Hendrik Wessels verlede jaar in aksie vir SA Skole teen Argentinië. Foto: Gallo Images

Onsekerheid het bestaan of talentvolle jonges soos Kade Wolhuter (Montpellier), Jan-Hendrik Wessels, George Cronjé (albei Clermont) en FC du Plessis (Toulon) wat einde verlede jaar gematrikuleer het en daarna oorsee is, deur Roux-hulle vir die Junior Bokke oorweeg sou word.

Wolhuter-hulle se name is op ’n lys van sowat 22 jonges oorsee, wat ook spelers soos Tiaan Jonker (Melbourne Rebels), Marcell Muller, Lesley Botha (albei Montpellier), Danwich Beukes (Toulon), Jarrod Cairns (Melbourne Rebels), Robbie Rodgers (Montpellier), Jacques-Lois du Toit (Stade Français) en Romuald Ntumba (Pau) insluit.

Dié spelers is onder meer na die buiteland omdat SA Rugby besluit het dat die nasionale o.19-liga nie vanjaar sal plaasvind nie. Daar is net ’n nasionale o.21-liga.

’n Groot moontlikheid bestaan egter dat Rassie Erasmus die strukture vir SA Rugby se junior kompetisies in die nabye toekoms sal hersien.

73%: Suid-Afrika se rekord in die laaste drie Junior Wêreldtoernooie. Hulle het 15 wedstryde gespeel, 11 gewen en vier verloor. Die span was elke jaar derde.

SA Rugby kan in belang van die Junior Bokke dalk vorentoe die o.21-reeks met ’n o.20-reeks vervang wat vroeg in die jaar oor ’n dubbelronde beslis sal word. Dít kan verhinder dat soveel jonges in die toekoms oorsee gaan.

Só ’n moontlike o.20-reeks sal as ’n siftingsproses vir Roux-hulle kan dien om die spelers te nooi na SA Rugby se akademie, wat vanjaar vroeg in Maart in Stellenbosch begin.

Roux meen daar is ’n klomp dinge aan die gebeur om die Junior Bokke weer in ’n posisie te plaas om die Junior Wêreldbekertoernooi soos in 2012 te wen.

“Die Bokke bly ons prioriteit, maar ek moet sê daar word baie aandag gegee daaraan om die junior strukture in plek te kry.”

Roux-hulle sal voor einde Februarie reeds vier belyningskampe vir die spelers van die Junior Bokke hou voordat die akademie begin.

“Die belyningskampe is (soos by die Bokke) om almal op dieselfde golflengte te kry.

“Ons sal tydens die kampe die spelers se sterk- en swakpunte aan hulle uitwys.”

Roux en sy hulpafrigter, Bafana Nhleko, sal ook Dinsdag by Erasmus en Jacques Nienaber kers opsteek.

Roux weet egter wat Erasmus as SA Rugby se direkteur van rugby van hom en sy span verwag.

Roux, Louis Koen, Erasmus en Nienaber het destyds, voordat die twee laasgenoemde afrigters na die Ierse klubspan Munster is, vier jaar lank in SA Rugby se mobiele eenheid saamgewerk.

“Dis snaaks hoe jy so dieselfde oor rugby begin dink as jy so lank in dieselfde kantoor werk en in dieselfde bussie ry.

“Toe Rassie na Munster is, was ek elke jaar vir ’n week daar. Ek het presies geweet wat hulle doen.

“Ons dink dieselfde oor die spel. Ek was ook verlede jaar vir twee weke in die Bokkamp.”

Roux is opgewonde oor wat hy tot dusver op die belyningskampe gesien het.

“Wat baie mense nie weet nie, is dat dit vanjaar die tweede groep spelers is wat Nico Serfontein-hulle destyds al op o.15-vlak geïdentifiseer het en wat daarna jaarliks deur SA Rugby na kampe genooi is. Verlede jaar is die eerste groep deur Nico- en Herman Masimla-hulle van die o.15-vlak af deurgebring.

“Die pyplyn begin nou daardie spelers uitskop wat ons kon monitor en help met finansiering, biokinetici, aanvullingsprodukte en om sekere spelers na beter skole te skuif.

“Dit gaan ook oor oesjare. Dit wat ek sover op kampe gesien het, is bemoedigend.

“Ons was die afgelope drie jaar naby aan sukses, maar naby is nie meer goed genoeg nie.

“Ek plaas geweldig baie druk op myself dat ons vanjaar minstens in die eindstryd moet speel.

“Ek het nie verniet so min hare wat boonop nog grys ook is nie. Ons sit harde werk in en ek glo ons is op die regte pad.

“ ’n Mens het ook altyd ’n tikkie geluk nodig vir sukses.”

’n Deel van Roux se optimisme kom van die feit dat daar nege spelers in sy groep is wat verlede jaar in ’n wedstryd of twee vir die Junior Bokke gespeel het.

Op senter sal hy uit spelers soos Diego Appollis, Brendan Venter, Christie Grobbelaar, Dawid Kellerman en Boitumelo Tsatsane kan kies.

As Wolhuter wel soos verwag word na die akademie genooi word en gekies word, sal Roux op losskakel onder meer uit hom, Du Plessis, die ewe talentvolle Rynhardt Jonker en Kian Meadon kan kies. Een van hulle kan ’n gedugte skakelpaar met Jaden Hendrikse, skrumskakel van die Haaie, vorm wat al verlede jaar sy kans gekry het.

Meer oor:  Springbokke  |  Junior Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.