Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior Bokke pak nemesis in Italië

Die Junior Springbokke se nemesis in o.20-Wêreldtoernooie die afgelope ses jaar, Engeland, sal een van hul groepteenstanders wees wanneer vanjaar se spogtoernooi in Italië beslis word.

Die Junior Springbokke verlede jaar in die bronsmedalje-wedstryd teen Argentinië in aksie. Suid-Afrika se o.20-span sal vanjaar in Italië poog om die eerste keer sedert 2012 as die junior wêreldkampioen gekroon te word.Foto: Getty Images

Wêreldrugby het Dinsdag bekend gemaak dat Suid-Afrika en Engeland saam geloot is in Groep C. Die ander spanne in dié groep is Fidji en die gasheerland.

Die kampioenspan die afgelope twee jaar, Frankryk, is saam met Ierland, Argentinië en Japan in Groep A.

Die Australasiese bure Nieu-Seeland en Australië is in Groep B saam met Wallis en Georgië.

As daar nou ’n span is teen wie Chean Roux (hoofafrigter) se Junior Bokke graag die bordjies sal wil verhang, is dit Engeland. Dié span het die jong Suid-Afrikaners immers van 2014 tot 2018 vyf keer agtereenvolgens in uitklopwedstryde verslaan.

In 2014 was dit ’n hartverskeurende nederlaag van 20-21 in die eindstryd, toe die toernooi in Nieu-Seeland aangebied is. In 2015 tot 2018 was dit elke keer in die halfeindronde van die toernooi.

Twee van daardie nederlae (31-32 in 2018 en 22-24 in 2017) was ook naelbyt-affêres.

Om nóg Engelse sout in die Bokkies se wonde te vryf, het die jong Rose die Suid-Afrikaners verlede jaar in ’n toerwedstryd in Engeland met 35-8 afgeransel.

Die laaste keer wat die Junior Bokke in ’n o.20-Wêreldtoernooi met Engeland kon afreken, was in 2013, toe hulle in die groepfase van die toernooi in Frankryk met 31-24 geseëvier het.

Die Junior Bokke begin hul Italiaanse veldtog op Sondag 28 Junie in Verona teen die gasheerland. Hul volgende wedstryd is op 3 Julie teen Fidji in dieselfde stad.

Hul groot stryd teen die Engelse, wat moontlik ook sal bepaal wie die halfeindronde haal, is op 8 Julie in Viadana.

Suid-Afrika sal nie net vanjaar die saak teen Engeland wil regstel nie, maar ook probeer om die eerste keer sedert 2012 as kampioen gekroon te word.

Die Junior Bokke het in die afgelope drie toernooie in Argentinië, Frankryk en Georgië die bronsmedalje gewen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.