Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior Bokke se kaptein op die bank

In ’n effens verrassende skuif sal die losvoorspeler George Cronjé, wat die naweek as kaptein van die Junior Springbokke aangewys is, nie dié span teen Uruguay op die veld lei nie.

Wanneer dié twee spanne mekaar Vrydag in Stellenbosch pak, sal Siyemukela Ndlovu (flank) die nasionale o.20-span aanvoer. Ndlovu, wat onder sy spanmaats as “Sasko” bekendstaan, vorm saam met Cronjé en Jordan Hendrikse (losskakel) deel van die Junior Bokke se leiersgroep.

Siyemukela Ndlovu sal die Junior Bokke Vrydag aanvoer. Foto: Gallo Images

Waar Cronjé se naam wel onder die plaasvervangers verskyn, sal Hendrikse glad nie Vrydag in aksie wees nie. Woord uit die Junior Bok-kamp is dat die spelers se werkslading bestuur word, aangesien die volgende wedstryd reeds Woensdag, teen Argentinië, is.

Dit word beaam deur Bafana Nhleko, afrigter van die nasionale span, in ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).

“Daar is min tyd tussen die wedstryde en die bestuur van spelers gaan baie belangrik wees. Ons het vars bene volgende week teen Argentinië nodig. ’n Paar spelers word geoormerk om hul eerste kans dan in die beginspan te kry,” sê Nhleko.

Jacques Goosen het in 2018 en 2019 vir die Suid-Afrikaanse Skolespan uitgedraf. Foto: Gallo Images

“Die beginspan sal gereed wees vir die wedstryd. Baie van hulle het deel gevorm van Saru se akademie wat in die afgelope paar weke ’n paar wedstryde gespeel het. Hulle ken en verstaan mekaar, wat ’n belangrike deel van die denkwyse (agter die spankeuses) was.”

Daar is ’n paar opwindende spelers in die span. Quan Horn, Canan Moodie en Curwin Gertse vorm die agterste driehoek. Horn is ’n oudleerling van die Hoër Jongenskool Paarl, terwyl Moodie in die Hoër Landbouskool Boland en Gertse in Paarl Gimnasium op die skoolbanke was.

Voorlangs staan die naam van die haker Jacques Goosen (Selborne College) uit. Hy het die Suid-Afrikaanse Skolespan in 2018 en 2019 verteenwoordig.

Ndlovu (Northwood High School) maak dit in die verklaring duidelik dat hy en sy spanmaats uitgehonger is om te speel. Sy bynaam, “Sasko”, kom van sy dae in die skoolkoshuis toe hy ’n voorliefde vir brood gehad het en ywerig daaraan weggelê het.

“Ons ouens is regtig uitgehonger om te speel. Ons wil uitgaan en ons land verteenwoordig en trots maak,” sê Ndlovu.

Junior Springbokke: Quan Horn, Canan Moodie, Ethan James, Tyler Bocks, Curwin Gertse, Brandon Wilkie, Bobby Alexander, Izan Esterhuizen, Reinhardt Ludwig, Siyemukela Ndlovu (k), Dylan de Leeuw, Raynard Roets, Blaine Golden, Jacques Goosen, Nolan Pienaar. PLAASVERVANGERS (uit): André-Hugo Venter, Jan-Hendrik Wessels, Corné Weilbach, Simon Miller, Rynard Mouton, Siyambuka Ningiza, George Cronjé, Bradley Davids, Kian Meadon, Mnqobi Mkhize, Dalvon Blood.

Meer oor:  Junior Bokke  |  Uruguay  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.