Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior Bokke trap Kiwi’s se tjank af

Die Junior Bokke het hul stemme by die o.20-Wêreldbeker-toernooi dik gemaak deur Nieu-Seeland ’n deeglike pak slae te gee.

Los, die bal is myne! JJ van der Mescht, slot van die Jong Bokke, word deur twee Nieu-Seelanders beetgekry. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het twee drieë gedruk om Donderdag met 25-17 in Rosario, Argentinië, hul laaste groepwedstryd te wen.

Met die oorwinning het die Junior Bokke, wat steeds onoorwonne by die toernooi is, hul plek in die halfeindstryd bespreek. Om sake vir Nieu-Seeland te vererger, kon hy nie vir die halfeindronde kwalifiseer nie.

Suid-Afrika se resep was duidelik: Duik die Kiwi’s voos en gun hulle geen beweegruimte nie. Die taktiek het duidelik gewerk en die Nieu-Seelanders soos afkop-hoenders op die veld laat rondhol. Moet wel nie van die Junior Bokke se stewige vertoning in die skrum vergeet nie.

Maar die groot uitblinker was die slot JJ van der Mescht, wat pure meneer was. Hy is met ’n drie beloon toe hy die bal by ’n lynstaan opgepik en van omtrent die halflyn af deurgesuiker het om te gaan druk. Ook in die vastelos het hy meer as sy man gestaan en ’n keer of wat omgekeerde besit verseker.

Daarby het iemand soos die senter Rikus Pretorius gewys dat hy oor baie vaardighede beskik. Nie almal is aanhangers van ’n groot senter soos Pretorius wat sy span met sy brute krag oor die voordeellyn kry nie. Tog was die Jong Bokke se eerste drie deur Vaughan Isaacs, heelagter, nadat Pretorius die verdedigers getrek en met ’n perfekte aangee Isaacs in besit gestel het.

ROSARIO, ARGENTINA - JUNE 12:  Vaughen Isaacs of S
Die Junior Bokke se heelagter, Vaughan Isaacs (links), en die vleuel Angelo Davids. Foto: Getty Images

Nog ’n Junior Bok wat tevrede met sy vertoning kan wees, is Jaden Hendrikse, skrumskakel. Hy het in die Kiwi’s se gesigte geboer en met hangskoppe dikwels sy span laat veld wen.

Tog moet die Jong Bokke se lof nie te veel besing word nie, want die ou kwaal van ongedissiplineerdheid het weer sy kop uitgesteek. ’n Allemintige drie Suid-Afrikaners is met geelkaarte gestraf.

Die flanke Dylan Richardson en Sibusiso Sangweni en James Mollentze, losskakel, was die skuldiges wat tyd in die koelkas moes deurbring.

In die tweede helfte het die Kiwi’s met hernude ywer op die veld gedraf en Suid-Afrika met ’n baie meer direkte aanslag amper verras. Boonop het die Junior Bokke hulle aan nog ’n ou kwaal, naamlik hanteerfoute, skuldig gemaak.

Maar Suid-Afrika het die duikslae uitgevoer wanneer hulle moes en fisiek nie ’n tree vir die Kiwi’s teruggestaan nie. Kry Chean Roux, die Jong Bokke se afrigter, dit reg om ’n vaderlike geselsie met sy spelers oor hul dissipline te hê, is daar geen rede hoekom Suid-Afrika nie oor ’n bietjie meer as ’n week as kampioen gekroon kan word nie.

Die Junior Bokke kom nou in die halfeindronde Maandag teen die verdedigende kampioen, Frankryk, te staan. Australië en Argentinië sal in die ander halfeind kragte meet.

Suid-Afrika is die enigste span wat steeds onoorwonne is ná die groepwedstryde.

Een van die grootste verrassings is dat Engeland, 2018 se naaswenner, nie vir die halfeindronde kon kwalifiseer nie.

Puntemakers:

Suid-Afrika 25 (19): Drieë: Vaughan Isaacs, JJ van der Mescht. Strafdoele: Jaden Hendrikse (3), Sanele Nohamba (2). Nieu-Seeland 17 (3): Drieë: Strafdrie, Lalomilo Lalomilo. Doelskoppe: Fergus Burke. Strafdoele: Burke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.