Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior Bokke verbeter ná trae begin

Ná ’n stadige begin het die Junior Bokke, wat aanvanklik verroes gelyk het en vir wie dinge nie wou vlot nie, van rat verwissel om Uruguay gemaklik te klop.

Canan Moodie draf deur vir sy eerste drie vroeg in die wedstryd tussen die Junior Bokke en Uruguay Vrydag in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaners het Vrydag vyf drieë gedruk om met 29-10 in Stellenbosch te seëvier. Dié twee spanne neem tans saam met Argentinië en Georgië aan ’n vierhoekige o.20-reeks deel.

Daar was vroeg belofte van ’n indrukwekkende vertoning deur die Suid-Afrikaners toe die vleuel Canan Moodie gaan druk het. Dit was nadat Quan Horn (heelagter) sy vaart ten toon gestel en gapings in die verdediging van Uruguay gevind het.

In die res van die eerste helfte kon die Junior Bokke, met die uitsondering van Brandon Wilkie (losskakel) se doelskop, egter nie enige verdere punte aanteken nie. Daar was ’n paar goeie rolmaalbewegings aan die kant van die tuisspan, maar by meer as een geleentheid het dit uitgeloop op ’n strafskop vir die besoekers.

Quan Horn, heelagter van die Junior Bokke, het die verdedigers van Uruguay ‘n paar keer besig gehou. Foto: Gallo Images

Om sake vir die Junior Bokke te vererger, was daar ’n aangee wat verlore gegaan het, ’n bal wat nie in die lug bemeester kon word nie en afronding wat gelol het.

Teen die rustyd was die telling 7-3 in die guns van die Suid-Afrikaners.

In die tweede helfte het dit aanvanklik gelyk of die Junior Bokke steeds van stryk af was. Maar toe Dylan Alexander (skrumskakel) sy span se tweede drie gaan druk het ná goeie werk deur Ethan James (senter), het hulle skielik hul ritme begin vind.

Kort daarna het Moodie sy tweede drie gedruk ná ’n goeie lopie deur Alexander.

Daar was ’n paar goeie vertonings aan die kant van die tuisspan. Jan-Hendrik Wessels (plaasvervangerstut) en André-Hugo Venter (plaasvervangerhaker) het ’n paar sterk lopies met die bal in die hand gehad, terwyl Horn gevaarlik op die aanval was. Daarby het Alexander die vonk verskaf wanneer sy span dit die nodigste gehad het.

Hoewel dit allermins nie ’n afgeronde vertoning deur die tuisspan was nie, was daar genoeg tekens dat dit vorentoe net nog beter kan gaan.

Puntemakers: Suid-Afrika 29 (7): Drieë: Canan Moodie (2), Dylan Alexander, André-Hugo Venter, Curwin Gertse. Doelskoppe: Brandon Wilkie, Kian Meadon.

Uruguay 10 (3): Drie: Gabriel Evans. Doelskop: Tomás Bameule. Strafdoel: Bameule.

• In die eerste wedstryd in die reeks het Argentinië Georgië Vrydag met 82-10 afgeslag. Die Junior Bokke en Poemas is Woensdag slaags.

Meer oor:  Junior Bokke  |  Uruguay  |  Stellenbosch  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.