Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior nou senior vir Cheetahs

’n Groot taak rus op die skouers van die Vrystaat-Cheetahs se kaptein, Junior Pokomela (23), wanneer hulle die eerste keer in hul Superrugby Unlocked-veldtog ’n wegwedstryd teen die Leeus speel.

Junior Pokomela, ’n voormalige onderkaptein van die Junior Springbokke, gaan die Cheetahs in die afwesigheid van die beseerde Ruan Pienaar lei. Foto: Gallo Images

Die Bloemfonteiners reis na Johannesburg ná twee tuisseges oor die Pumas en Bulle en sal daarop wil voortbou. Hulle sal egter ’n geruime tyd sonder die dienste van hulle gereelde kaptein, die Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar, moet klaarkom. Hy het ’n kniebesering teen die Bulle opgedoen.

Tian Meyer vervang Pienaar, wat tot minstens aan die einde van die jaar buite aksie sal wees. Meyer se plek op die plaasvervangersbank word weer deur die Amerikaanse Wêreldbeker-skrumskakel Ruben de Haas geneem. Dis die enigste veranderinge in die 23-tal.

Pokomela is al ’n geruime tyd deel van die Cheetahs se leierskorps en die vertroue wat Hawies Fourie, afrigter, in hom het, is verlede week bevestig toe hy die leisels gegee is nadat Pienaar die veld ná slegs 15 minute moes verlaat.

Pokomela se leierskap is ook al op nasionale vlak raakgesien en benut.

Hy was in 2016 die onderkaptein (en kaptein in een wedstryd) van die Junior Springbokke in die o.20-Wêreldtoernooi in Engeland.

Fourie het hom ná die Bulle-stryd veral geloof vir sy besluitneming in die wedstryd wat hulle met 19-17 gewen het.

Ek dink die voordeel wat die tuisspan gehad is nou weg met die toeskouers wat nie daar is nie.

Die Cheetahs sal nou hoop dat Pokomela hulle ook tot ’n eerste oorwinning op Ellispark sedert 2011 kan help voer.

Die Cheetahs kom teen ’n Leeus-span te staan wat nege gereelde spelers weens Covid-19 moes afstaan vir die wedstryd.

Die tuisveld faktor, wat gewoonlik ’n groot bondgenoot vir die Leeus is, word nou tot ’n groot mate geneutraliseer, het Fourie Donderdag tydens sy spanaankondiging opgemerk.

“Dit gaan interessant wees om te sien hoe gaan ’n wegwedstryd nou voel, ek dink die voordeel wat die tuisspan gehad is nou weg met die toeskouers wat nie daar is nie.

“Dit gaan nou maar daaroor dat jy moet reis na waar jy speel en ’n busrit van vyf uur wag op ons. As jy dit eers uit jou stelsel kan kry, dan dink ek gaan dit maar baie dieselfde wees (as om tuis te speel),” sê Fourie.

Die agtsteman Jasper Wiese, die slot Walt Steenkamp, die senter Benhard Janse van Rensburg en die heelagter Tapiwa Mafura, speel Saterdag in hul laaste wedstryd vir die Cheetahs.

Wiese is op pad na die Leicester Tigers in Engeland, Steenkamp sluit in November by die Bulle aan, Janse van Rensburg gaan vir die NEC Green Rockets in Japan speel en Mafura keer terug huis toe na die Pumas.

Saterdag se wedstryd op Ellispark begin om 16:30.

Vrystaat-Cheetahs: Clayton Blommetjies, Malcom Jaer, Benhard Janse van Renburg, Frans Steyn, Rosko Specman, Tian Schoeman, Tian Meyer, Jasper Wiese, Junior Pokomela (k), Andisa Ntsila, Walt Steenkamp, Carl Wegner, Luan de Bruin, Reinach Venter, Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Boan Venter, Erich de Jager, JP du Preez, Aidon Davis, Chris Massyn, Ruben de Haas, William Small-Smith.
Meer oor:  Cheetahs  |  Superrugby Un­Locked  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.