Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié Cheetahs speel soos hardebaarde

Hy mag dalk ’n man van min woorde wees, maar dis sy dade in die Cheetahs-trui wat van die losvoorspeler Junior Pokomela ’n belangrike skakel in die agttal maak.

Die 22-jarige Pokomela sal waarskynlik met die nommeragt-trui toevertrou word met die vertrek van Henco Venter na die Haaie.

Junior Pokomela was ’n handvol teen Munster Vrydagaand in Bloemfontein. Hier gaan hy oor vir sy tweede drie van die seisoen, met Munster se verdedigers te laat om te keer. Foto: Mlungisi Louw

Pokomela het vanjaar ’n uitsonderlike Curriebeker-reeks beleef en is sover in die Pro14-reeks een van die staatmakers in die Cheetahs se uitmuntende pak voorspelers, wat drie opeenvolgende wedstryde die teenstanders harde bene laat kou het. Hy het in drie wedstryde twee drieë gedruk.

“Ek is geleenthede gegun by die Cheetahs en ek het dit met albei hande aangegryp. Die span vertoon tans goed en ek is maar te bly dat ek ’n positiewe bydrae kan maak,” sê Pokomela.

“Ek is lief vir rugby en dit is meer as genoeg inspirasie vir my. Ek het niks nodig om my te motiveer nie en ek weet die res van my spanmaats voel dieselfde. Ons dra almal net die Cheetahs se beste belange op die hart. Dit gaan nie oor enkeles nie, maar die span.”

Pokomela het Maandag die eerste keer met Hawies Fourie (as afrigter) kennis gemaak en sê hy sien uit daarna om onder hom nog meer te leer. Hy is by die Cheetahs eers deur sy skole-afrigter, Rory Duncan, en toe Franco Smith afgerig.

Fourie is egter geen vreemdeling in die Vrystaat nie. Hy was van 2007 tot 2014 by die Vrystaat-Cheetahs en Cheetahs betrokke as agterlynafrigter.

Coach Hawies is ’n produk van die Vrystaat en hy verstaan alles van Cheetahs-rugby. Ek kan nie wag om saam met hom te werk nie.”

Hy sê hy is bly vir die ruskans die naweek, met die Pro14-reeks wat ’n blaaskans neem en volgende week hervat word. Die Cheetahs se toergroep – wat nog aangekondig moet word – vertrek volgende Dinsdag Ierland toe vir hul eerste van drie toerwedstryde.

Hulle kom volgende Saterdag in Galway teen Connacht te staan, waarna hulle teen die Scarlets en die Cardiff Blues in Wallis te staan kom voordat hulle op 10 November na Suid-Afrika terugkeer. Hul laaste wedstryd vir die kalenderjaar is op 30 November teen die Ospreys, ook in Wallis.

“Ons weet daar wag ’n taai toer, maar ons fokus is vir eers volgende week se wedstryd teen Connacht. Dit gaan nou daaroor dat ons slaggereed is vir die uitdaging en hopelik kan ons voortbou op die momentum van die laaste drie wedstryde.”

Pokomela sê hoewel die kompetisie nog lank is, glo hy tog hulle staan ’n kans om die uitspeelrondes te haal, maar hulle sal hul voete plat op die aarde moet hou en gefokus bly.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.