Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas se ‘Gamaroela-Gawie’

In 1969 het dit vir ’n rukkie gelyk asof ’n verregaande storie wat die skrywer Topsy Smith twee jaar tevore geskryf het, waar kan word.

Jurie Lategan op die aanval vir Griekwas.

Dit was die jaar toe dit skielik nie meer so lagwekkend geklink het dat ’n skoolseun vir die Springbok-rugbyspan gekies kon word nie!

Smith, meer bekend as die skepper van die steeds bekende Trompie-reeks, het in 1967 ’n boek geskryf met die naam Gamaroela-Gawie.

In dié boek word die rooikop matriekseun Gawie sowaar ’n Springbok!

Skoolseuns was natuurlik mal oor die boek, maar volwassenes het omtrent van die bank afgeval soos hulle vir dié onwaarskynlike storie gelag het.

Jurie Lategan soos hy in matriek gelyk het.

Toe breek 1969 aan en daar by die Hoërskool Victoria-Wes speel ’n matriekseun met die naam Jurie Lategan die Noord-Kaap se rugbyvelde aan die brand.

Lategan, toe glo ’n “stil” seun, was ook ’n knap amateur-bokser en atleet. Hy het veral in verspring uitgeblink.

Maar dit was op die rugbyveld waar hy homself behoorlik uitgeleef het. Hy het so goed gespeel, dat hy sowaar vir Griekwas se o.24-span gekies is!

“Die eerste helfte was ek maar senuweeagtig. Ek is nie gewoond om voor so baie mense te speel nie. Vir my teenstanders is ek nie bang nie,” het Lategan agterna gesê.

Nie lank daarna nie was Mannetjies Roux nie vir Griekwas se uitsoekspan se wedstryd teen Transvaal beskikbaar nie.

Mannetjies was Lategan se groot held. Tot die skoolseun se groot vreugde word hy toe in Mannetjies se plek gekies.

Nou het die tonge begin klap. Mannetjies is self in koerante aangehaal waar hy sê dat Jurie Lategan nog ver kan gaan in rugby.

Die voorblad van Topsy Smith se rugbyboek ‘Gamaroela-Gawie’.

Dalk so ver as die Springbok-span? Het Jurie Topsy Smith se boek gelees? Het hy nie dalk gedroom dat hy, soos Gamaroela-Gawie, die Groen-en-goud oor sy kop sou trek voor die einde van sy matriekjaar nie?

Nie lank ná Lategan se debuut vir Griekwas nie, was hy al in sy bed in droomland in die koshuis toe ’n onderwyser hom wakker skud: “Jurie, word wakker! Jy is vir die Kwaggas gekies!”

“Wat vir ’n ding is dit, Meneer?” wou Lategan, lekker deur die slaap, weet.

Hy vind toe uit dis ’n uitnodigingspan vir wie hy daardie Saterdag op Ellispark in Johannesburg teen ’n span van die Noordelike Universiteite moet speel.

Nóg ’n stappie nader om Griekwas se Gamaroela-Gawie te word!

Saam met Lategan in die Kwagga-span was daar Springbokke soos Albie Bates en Dirk de Vos. Teen Lategan in die Noordelike Universiteite-span was daar Springbokke soos Ronnie Potgieter en Piet du Plessis. Daar speel Lategan saam met sy helde en hy deins nie vir hulle terug nie, hoor.

“Jurie hanteer lekker, verdedig goed, trouens sy verpletterende laagvatte herinner baie aan Mannetjies Roux – en hy het ’n goeie oog vir ’n gaping,” het Die Beeld destyds berig.

’n Ander rugbyskrywer, Jaap Swanepoel, het Lategan vir sy “skitterende verdediging” uitgesonder en ook genoem dat hy ’n drie gedruk het.

In 1969 het Australië hier getoer en daarna het die Bokke na Brittanje gereis. Die senters wat daardie jaar vir die Bokke in die toetse gespeel het, was Mannetjies, Eben Olivier, Tonie Roux en Johann van der Merwe.

Die skrywer Topsy Smith was helaas nie ’n Springbok-keurder nie, so daar was nie plek vir Lategan in die nasionale span nie.

Maar Lategan was darem nog aan die begin van sy speeldae en kon sekerlik nog iewers vorentoe vir sy land speel.

Griekwas se Curriebeker-wenspan van 1970. Jurie Lategan was ’n plaasvervanger en hy staan heel links in die agterste ry.

In 1970, toe Griekwas die Curriebeker gewen het, was hy een van die span se plaasvervangers. Kyk maar, hy verskyn op die spanfoto.

Die volgende paar jaar het Lategan steeds nou en dan die verbeelding aangegryp met sy onverskrokke spel.

Dit was egter asof hy nie behoorlik kon deurbreek nie.

Dalk was dit omdat hy meestal op vleuel gebruik is.

Dis glo iets waaroor die Griekwas se destydse afrigter Ian Kirkpatrick en die unie se keurders lelik vasgesit het.

’n Rugbyskrywer skryf: “Hoewel Lategan vinnig van die merk is en ’n lyn kan breek, kan hy nie sy vaart oor ’n lang afstand behou nie – iets wat nodig is vir ’n vleuel.”

Jurie Lategan was ’n vreeslose speler, selfs aan die begin van sy speeldae vir Griekwas, toe hy nog ’n matriekseun was.

In dieselfde berig, onder die opskrif “Lategan ’n tweede Visagie”, vertel die skywer dat Kirkpatrick glo van plan is om Lategan die fynere kunsies van losskakelspel te leer. Kirkpatrick was glo vol vertroue dat Lategan die Springbok-losskakel Piet Visagie in die nommer 10-trui sou kon opvolg.

Dit het helaas nie gebeur nie.

“Toe ek in 1979 by Ammasol (een van Griekwas se klubspanne) kom, was Jurie ook daar. Hy het toe nie meer ernstig rugby gespeel nie,” vertel André Gerber dié week.

Gerber het daardie tyd vir Griekwas gaan speel en hy en Lategan het goeie vriende geword.

Dis juis uit gesprekke met Gerber en uitknipsels uit plakboeke wat deur Gerber verskaf is, waaruit hierdie artikel saamgestel is.

“Jurie was plat op die aarde. Hy is in 2010 ná ’n siekte oorlede. Hy was ’n uitstekende speler en mens wat ons te vroeg verlaat het,” sê Gerber, wat ook vir die Oostelike Provinsie senter gespeel het.

Lategan se vrou, Stacy, en kinders, Rintie en Ewaldt, was ook baie sportief en het al drie provinsiale kleure in verskillende sportsoorte verwerf.

Meer oor:  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.