Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kaap is weer Hollands op Loftus

’n Genadelose pak voorspelers in tipiese Bulle-tradisie. Hope X-faktor en generaal Morné Steyn in ’n agterlyn. En ’n gerieflike voorsprong op die puntelys van die Superrugby Unlocked-reeks.

Die Bulle-senter Stedman Gans maak gereed om Damian Willemse, losskakel van die Stormers, te pypkan. Foto: Gallo Images

Dít is die stand van sake by Loftus Versfeld nadat die Bulle Saterdagaand nie eens ’n volle wedstryd nodig gehad het om die Stormers met 39-6 af te ransel nie.

En dié span se beste kom nog, met Jake White, die Bulle-afrigter, wat sê hy is opgewonde om te sien hoe sy span oor die volgende paar weke kan ontwikkel.

“Ek is baie tevrede met ons samespel ná vyf weke en ek is oortuig dit kan nog ’n spesiale groep word.

“Maar ook, ons het nog niks gewen nie en daar lê nog twee, drie lang maande voor ons.

“Wat ek vanaand die meeste geniet het, was die kontinuïteit en samespel tussen ons voor- en agterspelers.”

White sê die eerste helfte is “van die beste rugby wat ons in ’n lang ruk gespeel het”.

Hy is heeltemal te beskeie. Die laaste keer wat die Bulle ’n teenstander met so ’n berekende, foutlose poging verfomfaai het, was dit die handewerk van Victor Matfield, Fourie du Preez en Pierre Spies-hulle.

Volgens White het die Bulle ’n ou rugbygesegde afgestof.

“Die voorspelers besluit wie die wedstryd wen en die agterspelers besluit dan hoe ver daar gewen word.

“Dit was vandag die geval en dit is hoekom ’n speler soos Stedman Gans-hulle agterlangs tot hul reg gekom het.

“Die agttal het die ideale grondslag geskep met die wyse waarop ons geskrum en gerolmaal het.”

Die voorspelers besluit wie die wedstryd wen en die agterspelers besluit dan hoe ver daar gewen word.
Jake White

Gans, buitesenter van die Bulle wat twee keer gaan druk het, is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Daar was verskeie van sy spanmaats wat ook die toekenning kon kry.

Die skakelpaar, Morné Steyn en Ivan van Zyl, was uitmuntend en langs Gans was sy sentermaat, Cornal Hendricks ewe bedrewe.

White sê Van Zyl begin die vrugte pluk nadat die Bul-legende Fourie du Preez hom en Embrose Papier onlangs onder sy vlerk geneem het.

“Jy kan die impak sien, daardie kleiner detail wat Fourie bied. Dit is asof ons skrumskakels ’n groter gevoel het oor wat hul rol is en dit gee hulle selfvertroue.”

White het ook melding gemaak van die 22-jarige werkesel-slot Ruan Nortjé.

“Hy tree sterk op die voorgrond en hy weet daar is ’n kans vir hom met soveel van ons slotte wat oorsee speel.

“Hy speel 80 minute elke wedstryd en dit is waardevol vir hom om saam met spelers soos Duane (Vermeulen), Trevor (Nyakane) en Jacques (van Rooyen) in die pak te speel.”

Die skrumskakel Ivan van Zyl het Saterdag op Loftus Versfeld waarskynlik sy beste vertoning nóg vir die Bulle gelewer. Foto: Gallo Images

En dan is daar die belowende Elrigh Louw.

Jy moet weet wanneer White vergelykings met Pieter-Steph du Toit en André Venter maak, is Louw ’n grote in wording.

“Hy is regtig ’n goeie speler. Ek het Pieter-Steph du Toit afgerig by die Haaie en almal het gesien hoe hy ontwikkel het.

“Ek het Juan Smith afgerig en was by die Bokke toe André Venter in Nick Mallett se tyd gespeel het.

“Elrigh is nog jonk, maar hy is in dieselfde klas. Hy moet net rustig wees en meer ervaring opdoen.

“Ek twyfel nie, hy gaan ’n Springbok word. En hy gaan ’n goeie Springbok wees.”

Meer oor:  Pretoria  |  Stedman Gans  |  Ivan Van Zyl  |  Stormers  |  Jake White  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.