Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kaapstad se atmosfeer uniek vir WB-sewes
Die Kaapstad-stadion tydens Wêreldrugby se sewesreeks in Desember 2018. Foto: Gallo Images

Daar wag ’n “oordosis” sewesrugby op Kaapstad met die Wêreldbeker-sewestoernooi wat in 2022 in die Moederstad aangebied gaan word.

Só sê die oud-Blitsbok Frankie Horne nadat Wêreldrugby Dinsdag aangekondig het dat die Kaapstad-stadion gasheer gaan speel vir dié skouspel in September 2022. Dit is die eerste keer wat die toernooi in Afrika aangebied gaan word.

Frankie Horne in sy speeldae. Foto: Getty Images

“Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in die verlede gewys dat hy groot byeenkomste suksesvol kan aanbied en ek voorspel die Blitsbokke gaan daar goed vaar.

“Sedert die byeenkoms (Wêreldrugby se sewesreeks) na Kaapstad geskuif is van Port Elizabeth (in 2015), het ons nog elke keer goed gevaar,” sê die 36-jarige Horne.

“Kyk net hoe groot was dit in San Francisco (die WB) verlede jaar – die inkomste was massief. Dit is goed vir sewesrugby.

Die Blitsbokke kon nog nooit daarin slaag om die WB, wat die eerste keer in 1993 in Skotland gehou is, te wen nie.

Maar Horne, wat die Blitsbokke in 68 toernooie in sy speeldae verteenwoordig het, sê Suid-Afrika kan in Kaapstad koning kraai.

“Met die twee byeenkomste (die Wêreldbeker en Wêreldrugby se toernooi in Desember) gaan daar seker omtrent ’n oordosis van sewes wees. Maar ek dink darem nie iemand sal daaroor kla nie,” sê Horne.

Met die twee byeenkomste gaan daar seker omtrent ’n oordosis van sewes wees. Maar ek dink darem nie iemand sal daaroor kla nie.
Frankie Horne

Vir Suid-Afrikaners is die toeken van die bod ’n spreekwoordelike troosprys nadat Wêreldrugby die afgelope paar jaar Suid-Afrika aan die korste ent laat trek het met die toeken van die Wêreldbeker vir vyftienman-rugby.

Suid-Afrika was saam met Italië en Japan op die kortlys om vanjaar se toernooi aan te bied, terwyl Frankryk met die regte van 2023 se toernooi weggestap het – dit nadat Suid-Afrika aanbeveel is as die beste kandidaat.

Philip Snyman, ’n voormalige Blitsbok-kaptein wat vroeër vanjaar sy uittrede aangekondig het, sê dit is vir Kaapstad die ideale geleentheid om met sy vere te pronk.

Philip Snyman, ’n voormalige kaptein van die Blitsbokke. Foto: Getty Images

“Dit is wonderlik vir die land, veral omdat ons nie die Wêreldbekers vir vyftiens gekry het nie. As daar twee of drie toernooie elke jaar in Kaapstad sou wees, sou alles uitverkoop gewees het.

“Die atmosfeer, wyn en die strande maak dit ’n besonderse gasheer.

“Baie spelers kry net een of twee keer in hul loopbane die geleentheid om in ’n Wêreldbeker te speel,” sê Snyman, die enigste Blitsbok wat in drie Wêreldbeker-toernooie (2009, 2013 en 2018) in aksie was.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, sê in ’n verklaring daar is ’n gretigheid om groot byeenkomste aan te bied.

“Ons is bly dat Suid-Afrika en Kaapstad bevestig is as gasheer vir die Wêreldbeker-toernooi.

“Daar is verlede jaar gesien hoe die interaksie tussen die sport en die toeskouers op die toernooi in San Francisco was en is seker dit sal net so groot sukses in Kaapstad wees,” sê Roux.

Die wêreld se voorste 24 mans- en 16 vrouespanne sal dit uitspook vir die twee titels. Die Blitsbokke en die Imbokodo, soos die Suid-Afrikaanse vrouesewespan bekendstaan, kwalifiseer outomaties om deel te neem.

Meer oor:  Frankie Horne  |  Jurie Roux  |  Kaapstad  |  Moederstad  |  Rugby  |  Sewesrugby  |  Wereldreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.