Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kade Wolhuter geskok oor weglating

Kade Wolhuter keer nie sy rug op Springbokrugby nie.

“Hy gaan nie na Frankryk om van die Bokke weg te kom nie, maar eerder om sy spel daar te gaan ontwikkel,” sê Andries Strauss, sy agent en ’n voormalige Boksenter.

“Hy kan volgens Wêreldrugby se regulasies eers oor vyf jaar ná die dag dat hy by Montpellier aankom, kwalifiseer om vir Frankryk te speel sou hulle in hom belang stel.

Kade WolhuterFoto: GALLO

“Sou die geleentheid hom voordoen om vir die Bokke te speel, sal hy dit beslis met albei hande aangryp.”

Die feit dat dié opwindende losskakel van Paul Roos en die Cravenweekspan van die Westelike Provinsie uit die Suid-Afrikaanse skolespan gelaat is, het die afgelope week ’n hewige storm op sosialemediaplatforms soos Twitter en Facebook veroorsaak.

Nie almal was dit eens dat sy weglating die regte besluit deur die Suid-Afrikaanse skolekeurders was nie. Veral nie nadat hy die voorste losskakel op die Cravenweek was nie.

Ander sien weens sy besluit om ’n driejaarkontrak met Montpellier te sluit geen fout met sy weglating nie.

Strauss het bespiegelinge op sosiale media vinnig nek omgedraai dat sy weglating uit die SA skolespan daarmee te make het dat hy nie vir die Junior Bokke beskikbaar is weens sy kontrak met Montpellier nie.

“Volgens die regulasies is hy verkiesbaar vir die Junior Bokke. Of hulle hom sal kies, is ’n ander vraag. Hy is vir seker beskikbaar vir die Junior Bokke.

“Hy het geskuif oor die geleenthede wat Montpellier hom bied om by van die wêreld se voorste spelers te gaan leer.

“Die Jiff-status wat hy ná drie jaar by Montpellier kry, was ook ’n groot trekpleister. Nadat hy sy Jiff-status gekry het, ongeag of hy vir die Bokke speel of nie, sal hy vir enige Franse klubspan verkiesbaar wees en nie as ’n buitelander in hul groepe tel nie. Die Jiff-status sal hom onbeperkte geleenthede by Franse klubs bied.

“Die ware rede waarom hy op pad soontoe is, is egter honderd persent om te gaan leer by van die wêreld se beste losskakels, van wie Handré Pollard een is.”

FC du PlessisFoto: Gallo Images

Pollard sluit hom ná die Wêreldbekertoernooi in Japan van die Bulle af by Montpellier aan.

Sy weglating uit die Suid-Afrikaanse skolespan was volgens Strauss nietemin ’n yslike teleurstelling vir Wolhuter.

“Soos enige speler wat in die Cravenweek speel, was dit ook een van Kade se grootste doelwitte om vir die nasionale skolespan gekies te word. Dis ’n span vir wie Kade altyd wou speel. Hy was egter van meet af aan bewus dat sy keuse om na Montpellier te gaan sy insluiting sal beïnvloed.

“Hy het vooraf aan alle belanghebbendes openbaar dat hy na Montpellier gaan. Hy is bereid om die gevolge van sy keuse te dra en sal daarmee saamleef.

“Nogtans was dit vir hom ’n hengse skok toe hy nie sy naam op die spanlys van die SA skolespan sien nie.

“Al is dit ’n groot teleurstelling vir hom, besef hy ook dit is nou tyd om aan te beweeg (wat sy weglating uit die nasionale skolespan betref).”

Maar voordat hy later vanjaar na Montpellier verhuis, het Wolhuter onafgehandelde sake in die Paul Roos-trui.

Een van die kragmetings waarna hy sal uitsien, is die interskole teen Grey Kollege, veral sy tweestryd met Grey se ewe talentvolle FC du Plessis.

Soos in Wolhuter se geval, is Du Plessis nie vir die SA skolespan of die SA skole A-span gekies nie omdat hy reeds ’n kontrak met nog ’n Franse klubspan, Toulon, gesluit het.

Du Plessis word soos Wolhuter as een van die land se belowendste losskakels beskou en is veelsydig genoeg om op senter of heelagter in te skakel.

Grey en Paul Roos moet wel in die interskole sonder hul nasionale skolespelers klaarkom, maar Wolhuter en Du Plessis se tweestryd sal steeds groot belangstelling uitlok.

Oor Wolhuter se posisie wat die SA skolespan betref, het SA Rugby die afgelope week aan Rapport gesê dat hy nie in spelers belê wat nie bereid is om in Suid-Afrikaanse rugby te belê nie.

  • Wolhuter se spanmaat by Paul Roos, die stut Robbie Rodgers, het ook ’n kontrak met Montpellier gesluit. Rodgers het weens ’n skouerbesering nie aan die Cravenweek deelgeneem nie.
Meer oor:  Montpellier  |  Springbokke  |  Kade Wolhuter  |  Frankryk  |  Skolerugby  |  Springbokrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.