Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kade kry straks kans in jong Stormers-span

Die Stormers gaan hul grofgeskut straks vir eers bêre en in Saterdag se voorbereidingswedstryd teen die Cheetahs in die Kaapstad-stadion jong spelers die geleentheid gee om hulself te bewys.

Kade Wolhuter oefen Dinsdag saam met die Stormers op die Kaapstad-stadion. Hy gaan na verwagting as die Kapenaars se losskakel opdraf in Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Ofskoon die span eers Woensdag om 14:00 aangekondig word, het Netwerk24 betroubaar verneem dat die belowende jongeling Kade Wolhuter ’n geleentheid op losskakel gaan kry.

Die Curriebeker-reeks vroeër vanjaar het leemtes in die Stormers en Westelike Provinsie uitgewys wat generaals betref en die verwagting is steeds dat ’n ervare nr.10 vorentoe gekontrakteer gaan word.

Wolhuter kry egter eers die geleentheid om homself te bewys en sal uit Suid-Afrikaanse rugby se hoogste kantoor dopgehou word, want hy word as ’n “speler van nasionale belang” gereken.

Baie sal natuurlik afhang van hoe ’n merendeels onervare pak voorspelers voor hom vaar. Die verwagting is dat die veteraanslot Chris van Zyl die WP gaan aanvoer en dat die Stormers se Springbok-ysters vir eers gaan rus. Dit sluit in die loskopstut Steven Kitshoff, wat Siya Kolisi na verwagting as die franchise se kaptein gaan vervang.

Met dié dat die klem na voorbereiding vir die Europese Rainbowbeker-kompetisie skuif, is dit inderdaad onnodig vir die Stormers se breier, John Dobson, om sy groot name aan die risiko van beserings bloot te stel.

Steven Kitshoff het Dinsdag saam in die Kaapstad-stadion geoefen, maar dit is onwaarskynlik dat hy en ander senior Springbokke vir die Stormers teen die Cheetahs gaan speel. Foto: Gallo Images

Hy weet reeds wat loskopstutte soos Kitshoff en Ali Vermaak hom bied, maar dit sal help om meer insig oor Kwenzo Blose te kry.

So is dit ook op vaskopstut waar Dobson reeds goed deur Frans Malherbe en Neethling Fouché gedien is. Dit sal egter interessant wees om te sien waartoe Sazi Sandi in staat is as hy blootstelling kry.

Wat aanvallende spel betref, sal dit moeilik wees om ’n oordeel te vel as ’n saamgeflanste span vol groentjies teen die Cheetahs opdraf.

Selfs al neig huidige tendense in die spel na die kant van verdediging, sal die Stormers en Westelike Provinsie se ondersteuners wil sien dat hul span ’n groter bedreiging met die bal in die hand inhou.

Op volle sterkte is die raamwerk daar vir die Stormers om goed te vaar. Die krag van hul agttal is welbekend en die WP het goed gevaar in die stryd om veldgebied in die Curriebeker-reeks.

Maar helaas was alles net ’n bietjie te eendimensioneel en voorspelbaar. Die prentjie moet ingekleur word.

Tot watter mate dit gedoen gaan word sal straks nie hierdie naweek al gesien kan word as Dobson, soos verwag, oorwegend ’n klompie melkbaarde gaan kies nie.

Maar daar behoort darem ’n paar leidrade te wees en dit behoort steeds interessant te wees om te sien hoe die jeugbrigade vaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.