Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kampe is ‘wekroep’ vir Bokke

Produktief, maar ’n wekroep.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, is hard aan die voorberei vir Suid-Afrika se besige toetsseisoen wat voorlê. Foto: Gallo Images

Dís die perspektief wat Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, gebied het ná belyningskampe met uitgesoekte spelers van die Bulle, Cheetahs, Haaie, Leeus en Stormers die afgelope week in die aanloop tot ’n besige internasionale seisoen.

Dit skop in Julie af met die toer van die Britse en Ierse Leeus, wat drie toetse teen die Bokke gaan speel.

Nienaber was origens tevrede met wat tydens dié kampe bereik is.

“Die spelers was vir meer as 500 dae laas saam (in die Springbok-opset), so daar was baie opwinding,” het hy Donderdag in ’n nuusverklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gesê.

“Om mekaar net van aangesig tot aangesig te kon sien, was puik, want ek het van die spelers nog nie sedert ons oorwinningstoer ná die verowering van die Wêreldbeker gesien nie.”

Die kampe was ’n “wekroep” vir die Bokke, voeg Nienaber by.

“Dit was ’n wekroep van waar ons in 2019 was en waar ons in 2021 is. Dit het ook uitgewys waarop ons moet fokus en in watter fasette ons gaan moet verbeter in ons voorbereiding.”

Daar is op vier spesifieke gebiede gefokus oor inligting wat aan spelers oorgedra is.

“Ons het eerstens inligting oor kommersiële en bemarkingsverpligtinge gedeel, want ’n Leeus-toer is ’n bietjie anders as ’n gewone een,” sê Nienaber.

“Dit was ook ’n goeie geleentheid om weer deur ons spanprotokolle te werk met die toetskalender en die invloed van die pandemie in gedagte. Ons het die spelers ’n skedule gegee met soveel as moontlik besonderhede.”

Gegewe dat die span in 2019 laas saam was en oor ’n paar maande teen die Leeus gaan moet speel, was dit volgens Nienaber van kritieke belang om die spelers so gou as moontlik op dieselfde golflengte te kry.

“Ek sou sê dat ’n groot deel van die saamtrekke ten doel gehad het om te sien waar ons as ’n span is, nie net die spelers nie, maar ook die bestuur. Dit het ons uitgebring by die afdelings waar ons sal moet verbeter,” sê hy.

“Nóg ’n groot doelwit was vir die spelers om ’n duidelike begrip te hê wat van hulle verwag word om vir die Bokke gekies te word.”

’n Sessie is ook met spelers in Ierland gehou. Daar sal ook sessies wees met spelers wat in Japan, Engeland en Frankryk gesetel is.

Nienaber se spanbestuur woon ook die kampe by, terwyl Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, Felix Jones, hulpafrigter, en Andy Edwards, kondisioneringshoof, aanlyn by die sessies aangesluit het.

Volgens Nienaber was dit “presies wat nodig was” vir die Bokke om die volgende fase van hul voorbereiding vir ’n besige seisoen te kan betree.

Ná die reeks van drie toetse teen die Leeus speel Suid-Afrika nog in die Rugbykampioenskap en daar gaan ook ’n tradisionele jaareindtoer wees.

Saru het geen ander keuse gehad nie as om die Bokke verlede jaar uit alle internasionale wedstryde te onttrek. Dit beteken dat hul laaste wedstryd 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Japan was.

Om nou weer af te skop waar hulle geëindig het, is die groot uitdaging.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.