Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan Benetton die Bulle boelie?

In Suid-Afrikaanse rugby het geen span die afgelope jaar ’n teenvoeter vir die Bulle se spierkrag gehad nie.

Die vraag is nou of die Italiaanse span Benetton fisiek teen die Bulle opgewasse sal wees, selfs sonder Duane Vermeulen en ’n paar ander Springbokke, in Saterdag se Reënboogbeker-eindstryd in Treviso.

Die Springbok-losvoorspeler Marcell Coetzee sal Saterdag in Treviso die Bulle lei in die Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton. Foto: Gallo Images

Ná ’n reeks genadelose plaaslike derbies sal die intensiteit waarmee die Bulle speel ongetwyfeld ’n troefkaart vir die besoekers wees.

“Dit sal beslis help, maar hulle sal ook hul huiswerk doen en daar is ’n paar oud-Bulle in hul groep. Hulle sal weet waarmee ons vorendag gaan kom,” sê Marcell Coetzee, die Bul-kaptein.

“As jy kyk na hoe ons die naweek teen die Haaie gespeel het, was dit maar baie los in die eerste helfte. Toe dit begin fisiek en taai raak, het ons die oorhand gekry en beheer geneem. Dit is ’n sterkpunt waarop ons sal fokus.”

Coetzee sê Benetton het duidelik baie verbeter sedert hy ’n paar seisoene gelede vir die Ierse span Ulster teen hulle gespeel het.

“Hulle speel teen ’n hoë tempo en dit is warm hier, so ons sal daarby moet aanpas,” het Coetzee uit Treviso laat weet.

Ons kon nie wag om op die vliegtuig te klim nie en dit is lekker om weer oorsee te speel. Dit gee ons baie energie.
Marcell Coetzee

“Daardie sege oor Glasgow (46-19 in April) het hulle seisoen omgedraai en hulle speel duidelik met baie selfvertroue.”

Coetzee sê voorts daar is groot opgewondenheid in die Bulle se toergroep.

“Ons kon nie wag om op die vliegtuig te klim nie en dit is lekker om weer oorsee te speel. Dit gee ons baie energie.

“Dit gesê, ons is nie hier vir ’n vakansie nie. Ons het ’n beker wat ons graag Saterdag wil wen en almal sien uit na geleentheid wat ons die naweek het.”

Hy het nooit verwag om in sy eerste wedstryd vir die Bulle – teen die Stormers op Loftus Versfeld – die Ligbloues aan te voer nie.

“As jy my vier weke gelede gesê het ek sal in die posisie wees, sou ek gelag het. Dinge het so vinnig gebeur en dit is wonderlik om saam met ’n klomp ouens te speel wat honger is vir sukses,” sê hy.

“Almal in die groep, die spelers en bestuur, maak my rol baie makliker. Jy mis beslis ouens soos Duane, Trevor (Nyakane), Morné (Steyn) en Marco (van Staden). Dit sal ’n spanpoging moet wees soos verlede naweek teen die Haaie en seuns moet soms manne word (in die senior Bokke se afwesigheid).”

Coetzee sê dit is verlange, Jake White en die Covid-19-pandemie wat hom uit Ierland laat terugkeer het huis toe.

“Om eerlik te wees, dit het begin toe die Covid-pandemie uitgebreek het. Ek was vier maande lank in Suid-Afrika gedurende die eerste vlaag en jy raak weer gewoond daaraan om saam met jou familie te wees, jou kultuur – en jy besef wat jy alles mis,” sê hy.

“Die Bulle het in daardie tyd aan my deur kom klop en ek het ’n goeie gesprek met Jake (White) gehad. Jy wil altyd deel wees van iets spesiaals en ek het in die verlede saam met Jake gewerk, wat my oortuig het dat dit goed sal wees vir my loopbaan.”

Meer oor:  Treviso  |  Benetton  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.