Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan Curwin die Leeus ook om Bosch lei?

Iemand van die gehalte van Curwin skop jy nie sommer agter elke Bosch uit nie.

Curwin Bosch se spel kan die Haaie Saterdagmiddag op Kingspark baie skop gee. Foto: Gallo Images

Dié lig het vir Haaie-rugby aangegaan toe die voortrekkery wat hoogty gevier het aan die groot klok gehang is en Curwin Bosch sy regmatige kans gekry het om in die afrigter (Robert du Preez) se seun, Robert du Preez jnr., se plek losskakel te speel.

Saterdag is dit uit daardie sleutel-posisie wat hy die Leeus op Kingspark in Durban kan kasty in hul Super-kragmeting.

Ja, die skoen is nou aan die ander voet vir die span van die Goudstad.

Daar in die jare sewentig was dit die Rooibontes wat teenstanders om die Bosch kon lei met die skittervoet van hul losskakel, Gerald.

Nou loop hulle die afgelope ruk self deur onder ’n Bosch wanneer hulle teen die Haaie te staan kom.

Curwin het reeds by enkele geleenthede die Leeus laat bontstaan vanuit die heelagter-posisie. Vroeër hierdie seisoen was hy een van die vernaamste argitekte van die Haaie se wegholsege met 42-5 op Ellispark en het hy gate deur die verdediging gehardloop.

“Hy is dodelik met sy teenaanvalle en op losskakel sal hy nou selfs veel meer betrokke by die spel wees. Ons sal hom baie fyn moet dophou,” het die Leeus se afrigter, Swys de Bruin, vandeesweek gesê.

Robert du Preez (afrigter) het vandeesweek bloot net toegegee dat Bosch baie goed gespeel het toe hy uitgevra is oor sy spelpeil op hul oorsese toer.

Onder normale omstandighede sou ’n kragmeting tussen hierdie twee spanne waarskynlik die kollig op die twee voorste hakers in die land, Malcolm Marx en Akker van der Merwe, laat val het.

Hy is dodelik met sy teenaanvalle en op losskakel sal hy nou selfs veel meer betrokke by die spel wees.
Swys de Bruin

Saterdag is nie een van hulle daar nie en word daardie kollig verskuif na die volgende generasie met Kerron van Vuuren (Haaie) en die Leeus se Jan-Henning Campher.

Albei is baie opwindende jong spelers en dan het die Haaie boonop die 19-jarige Dylan Richardson op die plaasvervangersbank om by Van Vuuren oor te neem.

Du Preez beskryf hom as ’n “ongelooflike talent”, wat baie fisiek is.

Die stryd in die skrums, waar Beast Mtawarira en Thomas du Toit ook afwesig is vir die tuisspan, kan deurslaggewend wees.

Die stryd om die losbal voorspel ook vuurwerk.

Die Leeus sal egter in die eerste plek moet seker maak hulle word nie weer voorlangs geboelie soos in die nederlaag op Ellispark nie.

Dit is moeilik om te sien hoe hulle die skip kan omdraai en ná daardie verpletterende nederlaag met amper 40 punte, die Haaie, nogal in hul eie Haaitenk, sal kan troef.

Maar nou ja, vanjaar se Superreeks is só onvoorspelbaar, dat niks as onmoontlik beskou moet word nie.

* Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Ruan Botha, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Mzamo Majola. PLAASVERVANGERS: Dylan Richardson, Juan Schoeman, John-Hubert Meyer, Hyron Andrews, Jacques Vermeulen, Cameron Wright, Robert du Preez, Kobus van Wyk.

Leeus: Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi; Elton Jantjies, Nic Groom, Kwagga Smith (k), Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Stephan Lewies, Johannes Jonker, Jan-Henning Campher, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Sti Sithole, Carlu Sadie, Reinard Nothnagel, Vincent Tshituka, Hacjivah Dayimani, Shaun Reynolds, Tyrone Green.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni, Stephan Geldenhuys.

TV-skeidsregter: Christie du Preez.

Afskop: 17:15 (SS 1, M-Net).

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Haaie  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.