Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan ‘Fort Eden Park’ se mure tuimel?

Indien die Wallabies se kaptein, Michael Hooper, ’n hol kol op sy maag het voor Sondag se kragmeting teen die All Blacks op Eden Park, het hy niks daarvan laat blyk nie.

Michael Hooper en sy spanmaats tydens ’n kragmeting by 2019 se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Al het die Australiërs verlede naweek so effens teen die verwagting in gelykop teen Nieu-Seeland in die eerste Bledisloebeker-wedstryd gespeel, het die All Blacks in Eden Park in Auckland, Nieu-Seeland, ’n bondgenoot. Jy sien, die Kiwi’s het in 1986 laas daar teen die Aussies aan die kortste end getrek.

“Die veld is dieselfde grootte as waar ons verlede week gespeel het, dit is net op ’n ander plek,” het Hooper ná sy span se laaste oefensessie gesê.

“Maar dit gaan ’n vol stadion wees. Dit is opwindend vir ons span en dit is ’n ongelooflike uitdaging.”

Maar of Eden Park nou die All Blacks goedgesind is of nie, die Wallabies het rede om positief te wees. Ná daardie gelykopuitslag is daar versigtige optimisme dat die Wallabies weer op ’n meer permanente grondslag hulself teen hul buurman kan laat geld.

Tog is daar ’n verdere stukkie statistiek of twee wat teen die Aussies tel. Hulle kon sedert 2001 nie daarin slaag om die All Blacks in Nieu-Seeland te klop nie, met die Kiwi’s wat boonop sedert 2003 klokslag die Bledisloebeker gewen het. Dis ’n opdraande stryd as daar al ooit een was.

Maar dit het die Wallabies se kaptein nie gekeer om optimisties te wees nie.

“Die Kiwi’s het vir lank die standaard gestel. Ons het die geleentheid om op hul tuisveld te speel. Ek is nogal oorgehaal,” het Hooper gesê.

Verwag egter dat die All Blacks gretig sal wees om te vergoed vir verlede week – met die Aussies wat straks sal moet bontstaan.

“Ons weet waar ons staan ná verlede week se wedstryd en ook waar ons moet verbeter,” het Sam Cane, kaptein van die All Blacks, gesê.

“Ek dink ons kan beslis verbeter met hoe ons die bal dra en hoe ons die losgemale skoonmaak. In ’n neutedop is dit ’n toets vir ons fisiekheid en intensiteit.

“As voorspelers is dit waar ons die uitdaging moet aanvat.”

Cane het praatjies dat daardie gelykopuitslag enige verdere druk op sy span plaas verwerp.

“Ons is maar te bewus van die druk, maar dit is iets wat altyd met toetse daar is. Daar was verlede week ook baie (druk). Ons fokus net op wat ons kan beheer.”

Intussen het die All Blacks ’n verdere terugslag gekry met die nuus dat Rieko Ioane las van ’n dyspierbesering het. Ioane is op die plaasvervangersbank en Peter Umaga-Jensen is inderhaas by die vergrote groep ingesluit. – Reuters, Sportredaksie

Spanne:

All Blacks: Beauden Barrett, Jordie Barrett, Anton Lienert-Brown, Jack Goodhue, Caleb Clarke, Richie Mo’unga, Aaron Smith, Ardie Savea, Sam Cane (k), Shannon Frizell, Tupou Vaa’i, Patrick Tuipulotu, Ofa Tuungafasi, Dane Coles, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Codie Taylor, Alex Hodgman, Nepo Laulala, Scott Barrett, Hoskins Sotutu, TJ Perenara, Rieko Ioane, Damian McKenzie.

Wallabies: Tom Banks, Filipo Daugunu, Hunter Paisami, Matt To’omua, Marika Koroibete, James O’Connor, Nic White, Harry Wilson, Michael Hooper (k), Ned Hanigan, Matt Philip, Lukhan Salakaia-Loto, Taniela Tupou, Brandon Paenga-Amosa, James Slipper. PLAASVERVANGERS: Jordan Uelese, Scott Sio, Allan Alaalatoa, Rob Simmons, Liam Wright, Jake Gordon, Jordan Petaia, Reece Hodge.

Afskop: 04:50 (SA tyd) op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.


Meer oor:  Wallabies  |  All Blacks  |  Eden Park  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.