Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan ‘Geiser’ lewe warm maak vir Haaie?
Reinach Venter, ’n voormalige haker van die Cheetahs, kan vir die Westelike Provinsie ’n nuttige aanwins wees. Foto: Gallo Images

Die behoefte aan ’n haker wat sy storie in die vaste fasette ken, kan van Reinach Venter ’n nuttige aanwins vir die Westelike Provinsie maak in die Curriebeker-reeks, meen John Dobson, die Streeptruie se afrigter.

Venter (26), wat in April deur die Franse klub Clermont vrygestel is weens ’n besering wat hy tydens ’n oefensessie met gewigte opgedoen het, is in die WP se beginspan vir Woensdagaand se kragmeting met die Haaie in die Kaapstad-stadion.

“Ons het regtig ’n behoefte gehad aan ’n haker wat aan sterk spel in die vaste fasette geken word, iemand wat sterk is in die skrums en die bal goed by die lynstane ingooi,” het Dobson Dinsdag met die bekendmaking van sy 23-tal gesê.

“Om iemand van sy gehalte te kry, is fantasties. As jy na hom kyk, sal jy sien hy’s ’n ou wat sy storie in die vaste fasette ken. Sy bynaam is ‘Geiser’. Hy heet nie dít omdat hy oral oor die veld ’n bres slaan nie! Hy doen sy werk in die enjinkamer.

“Die skrums is belangrik vir ons en ek dink ons het daar tekort geskiet op Ellispark (teen die Leeus verlede naweek). Hopelik versterk hy ons daar.”

Venter vervang die beseerde JJ Kotze in een van vele veranderings aan die span wat teen die Leeus verloor het.

Seker die belangrikste verandering is dié van die skakelpaar waar Paul de Wet en Tim Swiel vir onderskeidelik Godlen Masimla en Abner van Reenen vervang.

Swiel het teen die Leeus noodgedwonge heelagter gespeel, maar Edwill van der Merwe se terugkeer na die agterste driehoek beteken dat hy losskakel toe kan skuif. Van der Merwe is op die vleuel en Sergeal Petersen skuif gevolglik na heelagter.

De Wet se geleentheid is welverdiend nadat hy teen die Leeus ’n goeie impak van die plaasvervangersbank af gemaak het.

Paul het tot dusver nie die speelkans gekry wat hy verdien nie. Wat ek van hom hou, is dat hy nie verkeerde besluite neem met sy balverspreiding nie.
John Dobson

“Paul het tot dusver nie die speelkans gekry wat hy verdien nie. Wat ek van hom hou, is dat hy nie verkeerde besluite neem met sy balverspreiding nie. Hy gee die bal vinnig uit en in die regte rigting. Sy vaart bied ook aan hom ’n groot X-faktor,” sê Dobson.

“Ek dink hy’s ’n baie goeie skrumskakel, een wat dit ver kan bring. Tans help hy ons speltempo versnel en verbeter ons besluitneming, wat baie goed is.”

De Wet en Swiel het beslis ’n groot uitdaging wat op hulle wag, met die Haaie se meer gesiene paar van Jaden Hendrikse en Curwin Bosch wat hul direkte teenstanders is. Die beste paar op die dag kan die gang van die wedstryd bepaal.

Elders in die WP-span vervang Cornel Smit die beseerde Dan du Plessis op senter en begin die losvoorspeler-aanwins van die Leeus, Hacjivah Dayimani, vir die eerste keer in ’n Streeptrui op die flank. Daarvoor het Dobson vir Juarno Augustus gepos en Evan Roos agtsteman toe geskuif.

Die afskoptyd van Woensdag se wedstryd is vanweë die nuwe aandklokreël na 17:00 vervroeg.

Die spanne is:

Westelike Provinsie: Sergeal Petersen, Seabelo Senatla, Cornel Smit, Rikus Pretorius, Edwill van der Merwe, Tim Swiel, Paul de Wet, Evan Roos, Hacjivah Dayimani, Marcel Theunissen, David Meihuizen, Ernst van Rhyn (k), Neethling Fouché, Reinach Venter, Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS (uit): Jason Alexander, Leon Lyons, Sazi Sandi, Justin Basson, Johan du Toit, Juarno Augustus, Godlen Masimla, Abner van Reenen, Lee-Marvin Mazibuko, Lyle Hendricks.

Haaie: Manie Lobbok, Werner Kok, Jeremy Ward (k), Marius Louw, Thaakir Abrahams, Curwin Bosch, Jaden Hendrikse, Mpilo Gumede, Thembelani Bholi, James Venter, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Khutha Mchunu, Fez Mbatha, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Dan Jooste Ntuthuko Mchunu, Wiehahn Herbst, JJ van der Mescht, Reniel Hugo, Dylan Richardson, Grant Williams, Boeta Chamberlain.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge.

TV: 17:00 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).


Meer oor:  John Dobson  |  Frankryk  |  Kaapstad  |  Durban  |  Clermont  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Haker  |  Haaie  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.