Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan weerlig ’n derde keer slaan?

Daar was in die 113 jaar van Springbok-rugby nog net twee spanne wat die All Blacks agtereenvolgens in Nieu-Seeland kon klop.

Die Springbokke staan in ’n kring nadat hulle Vrydag in die Westpac-stadion gaan litte losmaak het. Foto: Getty Images

In 1937 het die span van Phil Nel die tuisspan in Christchurch en Auckland geklop om die toetsreeks teen die aartsvyand met 2-1 te wen.

Meer as 70 jaar later het die Bokke die Kiwi’s opeenvolgens in 2008 en 2009 in onderskeidelik Dunedin en Hamilton getroef.

Dit is al vermag, maar die annale wys dit gebeur – soos Halley se komeet – rofweg een keer in ’n leeftyd.

Die vraag is of die span van Rassie Erasmus die kampioenspan van ’n dekade gelede môre in die Rugbykampioenskap kan nadoen met Bok-rugby wat twee seisoene gelede in die waakeenheid gaan draai het?

Is dit regtig realisties of eerder wensdenkery om die hoop te hê dat die Springbokke twee jaar in ’n ry die All Blacks in Wellington kan verfomfaai?

Asof daar nie gewoonlik genoeg op die spel is tussen die spanne nie, het Suid-Afrika die bykomende motivering dat hy bo Engeland in die vierde plek op die wêreldranglys kan inskuif met ’n sege of ’n gelykop-uitslag.

Handré Pollard, losskakel van die Bokke, en sy skakelmaat, Faf de Klerk (regs) gaan takties op hulle stukke moet wees in Wellington. Foto: Getty Images

Steve Hansen, die All Black-breier, het die week verras toe hy Beauden Barrett in die laaste vesting gekies het om vir Richie Mo’unga plek te maak op losskakel.

Dit gee die tuisspan ’n heel ander dinamika.

Die Springbokke gaan met Barrett op heelagter en Ben Smith in die nr. 14-trui takties berekend en byna foutloos moet wees.

Mo’unga is op die keper beskou ook beter toegerus om die besoekers se opskietverdediging te trotseer.

In die Nieu-Seelandse media word daar gemor dat sulke proefnemings teen die Springbokke wys dat Hansen en sy afrigterskorps nie veel gepla is met wat vanjaar in die Rugbykampioenskap gebeur nie.

“Dit is nie dat ons nie respek het vir die Rugbykampioenskap nie. Dit is maar net hoe dit gaan in ’n Wêreldbeker-jaar. Ons het ’n groter plan en ons werk stelselmatig in daardie rigting. Dit beteken dat ons ’n paar risiko’s moet vat, maar ons is gemaklik daarmee,” het Hansen aan stuff.co.nz gesê.

Die insluiting van Kwagga Smith in die Bokke se beginspan, het ook ’n redelike debat afgegee.

Met Smith as die oopkant-flank lyk die besoekers se lostrio, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit en Smith, meer gebalanseerd.

Die beseerde kaptein, Siya Kolisi, is nie ’n flank wat by uitstek grond toe speel nie en Smith is in die opsig ’n bykomende bate by die afbreekpunte.

Erasmus gooi Smith by die spreekwoordelike diepkant in om homself in ’n wegwedstryd teen die All Blacks te bewys.

Die Kwagga-entoesiaste vertel jou Erasmus het misgetas deur hom nou eers te kies.

Dan is daar ook diegene wat voorspel Smith is nie fisiek opgewasse om ’n faktor teen die All Blacks te wees nie.

* Nieu-Seeland: Beauden Barrett, Ben Smith, Jack Goodhue, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Richie Mo’unga, TJ Perenara, Kieran Read (k), Matt Todd, Shannon Frizell, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Dane Coles, Ofa Tu’ungafasi, Angus Ta’avao, Vaea Fifita, Dalton Papalii, Aaron Smith, Anton Lienert-Brown, George Bridge.

Suid-Afrika: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen (k), Pieter-Steph du Toit, Kwagga Smith, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane, RG Snyman, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn, Jesse Kriel.

* Afskop: 09:35.

Skeidsregter: Nic Berry (Aus).

Assistent-skeidsregters: Angus Gardner (Aus), Shuhei Kubo (Jpn).

TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Eng).

Meer oor:  Wellington  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.