Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kan WP kophou in Durban-drukkoker?

Terwyl ’n mens die spanne op papier kan opweeg en probeer besluit wie gaan wen, is die verskil tussen die Haaie en die Westelike Provinsie dalk meer sielkundig.

Aan die een kant is daar die Haaie, wat tien wedstryde op ’n streep gewen het sedert ’n groot nederlaag in hul eerste ligawedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks.

Dillyn Leyds. Foto: Gallo Images

Dán is daar die WP, wie se spelpeil van die een uiterste na die ander toe swaai. Daar was van die mooiste rugby wat in ’n lang tyd op Nuweland gesien is, maar ook swak nederlae weg van die huis teen Griekwas, die Pumas en ’n jong span van die Goue Leeus.

Die Haaie se motivering kan egter in twyfel getrek word gegewe dat hulle reeds seker van hul plek boaan die puntelys is.

Op sy beurt kan die WP Saterdag die tweede plek losspeel vir ’n tuishalfeindstryd, maar sal hy die sterkste span in die reeks in sy agterplaas kan klop as hy nie weg van Nuweland met Griekwas of die Pumas kon afreken nie?

Dalk sal die Haaie nie ewe desperaat as die WP wees nie. Dan weer is daar ’n Springbok-groep wat ná die Curriebeker-eindstryd vandeesmaand aangekondig word, wat vir elke speler genoeg motivering behoort te wees om sy beste te lewer.

In vele opsigte is hierdie ’n wedstryd wat die WP se veldtog kan definieer. Sy afrigter, John Dobson, se uitdaging sou vandeesweek gewees het om sy spelers se koppe reg te kry.

Ondanks die Streeptruie se talent, lyk dit asof hul geestelike ingesteldheid en konsentrasie eenvoudig nie skerp genoeg is nie.

Sondag se nederlaag teen die Leeus het die WP se broosheid ontmasker en die Streeptruie moet nou diep delf om op ’n kritieke tydstip met ’n groot vertoning vorendag te kom.

Al kwalifiseer hulle vir die halfeindronde ná nóg ’n flou vertoning, sal dit bitter min vertroue inboesem in die reeks se pylvak.

Maar ja, die WP het ’n paar troefkaarte, veral met die terugkeer van die vaskopstut Wilco Louw en die veelsydige agterspeler Dillyn Leyds.

Al wat lol is dat die vreemde agterste driehoek, met die WP wat Leyds – sy beste heelagter – op vleuel gekies het en Damian Willemse – ’n losskakel – op heelagter.

Daardie soort ding is altyd moeilikheid soek, maar terselfdertyd loop die WP se agterlyn oor van die individuele briljantheid.

Die vraag is net of die WP geestelik opgewasse gaan wees. Indien wel, wag daar ’n boeiende wedstryd.

Spanne
Haaie: Garth April, Odwa Ndungane, Lukhanyo Am, Marius Louw, Sbu Nkosi, Curwin Bosch, Michael Claassens, Daniel du Preez, Jacques Vermeulen, Keegan Daniel, Ruan Botha (k), Tyler Paul, Ross Geldenhuys, Franco Marais, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Chiliboy Ralepelle, Juan Schoeman, Jean Droste, Jean-Luc du Preez, Louis Schreuder, Tristan Blewett, Kobus van Wyk.   

Westelike Provinsie: Damian Willemse, Seabelo Senatla, Huw Jones, Ruhan Nel, Dillyn Leyds, Robert du Preez, Dewaldt Duvenage, Nizaam Carr, Cobus Wiese, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Chris van Zyl (k), Wilco Louw, Bongi Mbonambi, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Ramone Samuels, Caylib Oosthuizen, Jan de Klerk, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, Werner Kok, EW Viljoen.

Skeidsregter: Jaco Peyper.

Assistent-skeidsregters: Stuart Berry en Archie Sehlako.

TV-skeidsregter: Willie Vos.

Afskop: 15:00 (SS 1, M-Net).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.