Amper twee jaar nadat kanker by Ronald Brown gediagnoseer is en sy rugbyloopbaan aan ’n draadjie gehang het, sal hy sy buiging vir die Blitsbokke maak.
Brown (25) is in die nasionale sewesspan ingesluit wat in Februarie aan twee toernooie in Spanje deelneem.

Ronald Brown in aksie vir die Universiteit van Johannesburg in ’n Varsitybeker-wedstryd in 2018. Foto: Gallo Images
Toe dié boorling van Montagu in die Wes-Kaap vroeg in 2019 hoor hy het Hodgkins-limfoomkanker, het sy lewe vir ’n paar maande uit chemoterapie en besoeke aan dokters bestaan.
Brown, wat ’n graad in onderwys aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) agter sy naam het, het egter herstel en hom aan die einde van dié jaar weer by die nasionale sewesakademie aangesluit.
Dit was juis sy uithalerspel by UJ wat destyds die aandag van die ringkoppe by die sewesakademie getrek het.
“Ronald se storie is ongelooflik en dit is wonderlik om te sien dat hy dit tot by die Blitsbokke maak,” sê Neil Powell, afrigter van die nasionale sewesspan, in ’n verklaring.
“Die veerkragtigheid wat hy getoon het terwyl hy teen die siekte geveg het, tesame met sy dissipline en werksetiek, is die tipe karaktereienskappe wat ons in spelers soek. Ek is opgewonde om te sien wat Ronald na die span kan bring.”
Powell het die grofgeskut nader getrek met die insluiting van strydrosse soos Chris Dry en Branco du Preez. Daarby sal Siviwe Soyizwapi, wat die laaste keer vir die Blitsbokke by die Kaapstad-toernooi in 2019 in aksie was, weer die span aanvoer.
Voeg daarby ander bekende gesigte soos Selvyn Davids, JC Pretorius, Muller du Plessis, Justin Geduld en Sako Makata wat ook in die span is en jy het rede om weer opgewonde te raak om die sewesbrekers in aksie te sien.

JC Pretorius in aksie vir die Blitsbokke by die Hamilton-sewestoernooi vroeg in 2020 in Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images
Spelers wie se name wel nie op die spanlys verskyn nie, is Stedman Gans en Kurt-Lee Arendse wat vir die Bulle in die Curriebeker-reeks diens doen.
Ook Angelo Davids wat tot die afgelope naweek vir die Westelike Provinsie gespeel het, sal nie na Europa reis nie.
Met onsekerheid wat heers oor wanneer Wêreldrugby se sewesreeks weer gaan begin, is die toernooie in Madrid ’n poging om spanne ’n geleentheid te gee om vir die Olimpiese Spele voor te berei.
Die toernooie, wat in ’n bioborrel beslis sal word, sal op twee agtereenvolgende naweke, 19-21 en 26-28 Februarie beslis word.
Die Blitsbokke se laaste toernooi teen internasionale mededinging was amper ’n jaar gelede, vroeg in Maart 2020 in Kanada.
Blitsbokke vir Spanje: Chris Dry, JC Pretorius, Zain Davids, Sako Makata, Christie Grobbelaar, Selvyn Davids, Branco du Preez, Justin Geduld, Ronald Brown, Muller du Plessis, Mfundo Ndhlovu, Siviwe Soyizwapi (k). Niereisende plaasvervangers: James Murphy en Darren Adonis.