Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kanse skraal dat Carlos by Kings opduik
Carlos Spencer is weer in die mark as hulpafrigter. Foto: Getty Images

Die kanse dat die voormalige All Black Carlos Spencer gou weer in Suid-Afrika gaan afrig, is maar skraal.

Spencer (44) het vandeesweek besluit om summier klaar te maak as hulpafrigter by die Hurricanes in Nieu-Seeland.

Dit was nadat aan hom gesê is dat sy toekoms weens die finansiële rimpel-effek van die Covid-19-pandemie onseker by dié span is.

Spencer kon tot ná die Hurricanes se laaste wedstryd in die Aotearoa-reeks in Nieu-Seeland op 15 Augustus teen die Highlanders aanbly.

Ek sien dit as ’n geleentheid om broodnodige tyd saam met my gesin deur te bring en te besluit wat ons volgende stap moet wees.
Carlos Spencer

“Ek het besluit om eerder dadelik op te hou as om die reeks klaar te maak. Ek sien dit as ’n geleentheid om broodnodige tyd saam met my gesin deur te bring en te besluit wat ons volgende stap moet wees,” het Spencer volgens stuff.co.nz gesê.

King Carlos, soos Spencer in sy speeldae bekend was, het bygevoeg dat hy nie “haastig” is om ’n besluit te neem nie.

Volgens hom wil hy nou uiteindelik ook ’n bietjie kyk hoe sy seun, Payton (15), en dogter, Ashley (12), aan skool- en sportbyeenkomste deelneem.

Die laaste drie jaar was hy bitter min by die huis aangesien sy vrou, Jo, en die kinders in Hamilton in Nieu-Seeland gebly het terwyl hy maande aaneen die Sanix Blues in Japan afgerig het.

’n Terugflits na 2014 toe Carlos Spencer die OP-Kings afgerig het. Van links is Devin Oosthuizen, Cameron Lindsay, Spencer, dr. Konrad von Hagen (spandokter) en Shakes Soyizwapi, deesdae die Blitsbok-kaptein. Foto: Gallo Images

Toe dit hierdie week bekend geword het dat Spencer weer as breier beskikbaar is, was daar voorspelbaar in sommige kringe in die Oos-Kaap oproepe dat hy by die Southern Kings betrek word.

Spencer het die Oostelike Provinsie in 2014, toe die span nog as die OP-Kings bekend was, afgerig.

Voor dít het hy ook as hulpafrigter by die Leeus en die Haaie gewerk.

Hy is aanvanklik na Port Elizabeth om die OP se skop-en-aanvalsafrigter te wees, maar toe Matt Sexton bedank het, is hy as hoofafrigter aangestel.

Dit was nie ’n goeie tyd nie en die OP het net een van sy tien wedstryde met Spencer as hoofafrigter gewen.

Die OP-rugbyunie het toe ook geldelike probleme begin kry en Spencer het bedank met die unie wat hom nog heelwat geld geskuld het.

Toe Spencer verlede jaar in Nieu-Seeland in ’n onderhoud oor sy ervarings as breier uitgevra is, het hy aanvanklik nie eers sy tyd by die OP genoem nie.

Toe hy daarop gewys is, het hy gesê dit was ’n moeilike tyd en laat deurskemer dat hy dit nie juis geniet het om vir Cheeky Watson, wat toe die OP-baas was, te werk nie.

Hy het ook gesê hy was nie “reg” om ’n hoofafrigter te word nie en hy stel ook nie weer daarin belang om een te wees nie.

Met die Kings wat in hierdie stadium heel tevrede is met die oud-Springbok Braam van Straaten se werk as skop-en-verdedigingsafrigter is daar nie juis plek vir Spencer ook nie.

’n Bron naby aan die span het uitgebars van die lag toe hy gevra is of die Kings Spencer dalk sal wil nader hark.

Spencer sal dalk ook uitbars van die lag as hy dieselfde gevra word.

Meer oor:  Carlos Spencer  |  Port Elizabeth  |  Kiwi  |  Pro14  |  Southern Kings  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.