Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kansel het oud-Griekwa nuwe tuiste laat soek

Ná meer as twee jaar van pendel tussen die Noord-Kaap en Gauteng om die liefdesvlam te laat brand, het AJ le Roux, haker van die Poubloues, voor die kansel beland en ook besluit basta met die baie myle.

AJ le Roux maak gereed om die bal uit te gee tydens die Curriebeker-halfeindstryd tussen Griekwas en die Goue Leeus in 2019 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Die 29-jarige Le Roux het hom aan die einde van die 2019-seisoen by die Pumas in Mbombela aangesluit, nadat hy Griekwas sedert 2015 90 keer op die rugbyveld verteenwoordig het. Hy het in dié tyd 18 keer vir die Poubloues agter die doellyn gaan kuier.

Hy is laat in 2019 met Monique Louw, ’n mediese verteenwoordiger wat in Pretoria woonagtig was, getroud. Dié twee het nou ’n tuiste in die Laeveld gevind.

“Ek is dankbaar dat ek in 90 wedstryde vir Griekwas kon speel; verlede jaar was ’n goeie jaar met ons wat die halfeind van die Curriebeker en uiteindelik die SuperSport-uitdaagreeks (nadat die Poubloues in 2017 en 2018 in die eindstryd vasgeval het) gewen het,” sê Le Roux.

“My besluit om ’n Puma te word was nie net geneem as gevolg van die rugby nie. My vrou werk in Nelspruit en Pretoria. Daar was ’n opsie om by Griekwas te bly, en dit sou lekker gewees het om in 100 wedstryde te speel, maar ons het vir twee en ’n half jaar tussen die twee stede gereis.

“Ek moet sê dat die mense in Kimberley die plek maak, maar dit is ook lekker om nou naby die wildtuin te wees. Ons is ook baie gelukkig dat ons nog nie die ergste koue hier (in die Laeveld) gehad het nie,” sê Le Roux.

AJ le Roux in aksie vir die Goue Leeus se o.21-span in 2011. Foto: Gallo Images

Dié oudleerling van die Hoërskool Overkruin in Pretoria het nooit Cravenweek-rugby gespeel nie en dit was ná skool, by Tuks se akademie, waar Nollis Marais (deesdae betrokke by die Bulle) en Paul Anthony (tans by Pretoria Boys High) sy deugde raakgesien het.

Hierna het hy junior en senior rugby vir die Blou Bulle en Goue Leeus gespeel, voordat hy draaie by die Vrystaat en Griffons gemaak en Griekwas hom uiteindelik opgeraap het.

Le Roux erken dit was vir hom ’n teleurstelling dat hy nie aan die einde van 2019 deur ’n Superrugby-span betrek is nie. Hoewel hy nooit destyds in sy tyd in die Rosestad die Cheetahs in ’n internasionale reeks verteenwoordig het nie, was hy wel deel van die oefengroep.

“Ek is nou eers 29 en glo dat ek nog nie my volle potensiaal bereik het nie. Daar is nog ’n hele paar jaar se rugby in my oor.

“As ’n mens jonger is, dan dink ’n mens wel anders oor die dinge, maar vir eers hoop ek net dat ons vinnig terug op die veld (ná die Covid-19-pandemie) kan wees. Ek sal graag ’n bydrae wil lewer en aanhou hard werk, dan sal die ander dinge vir hulself sorg,” sê Le Roux.

Meer oor:  Aj Le Roux  |  Pumas  |  Monique Louw  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.