Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Karakter verseker VS van tuishalfeind

’n Skitter-vertoning in die tweede hefte deur die Vrystaat-Cheetahs teen die Westelike Provinsie het gehelp dat hulle Saterdag ’n tuishalfeindstryd in vanjaar se Curriebeker-reeks aanbied.

William Small-Smith, senter van die Vrystaat-Cheetahs gaan bo oor Dillyn Leyds van die Westelike Provinsie vir sy drie in die spanne se Curriebeker-wedstryd in Bloemfontein.Foto: Gallo Images

Die Vrystaters het die Streeptruie met 38-33 geklop om welverdiend boaan die punteleer te eindig.

Hulle was rustyd nog met 12-26 met die rug teen die muur, maar vier drieë ná die draaislag, vertel die verhaal van ’n span wat wou wen.

Die WP-kaptein Chris van Zyl is te laat om te keer dat Joseph Dweba druk vir die Vrystaat-Cheetahs.Foto: Gallo Images

Hulle is aangespoor deur die meer as 13 000 toeskouers wat Saterdag waarde vir hul geld gekry het.

Die Vrystaat-Cheetahs pak Saterdag die Haaie in die Rosestad wat ’n riller kan wees.

As hulle weer ’n begeesterde vertoning kan lewer soos teen die Kapenaars, kan Bloemfontein begin vere reg skud vir ’n eindstryd.

Franco Smith, afrigter van die Vrystaat, was ná die wedstryd baie in sy noppies oor sy span se oorwinning teen ’n baie goeie WP-span.

“Dit kan seker tel as een van die beste oorwinnings wat ek al hier gehad het. Ons het al soveel keer so ver voorgeloop en dan verloor ons in my tyd hier by die Vrystaat en vanaand (Saterdag) was dit wonderlik om dit so te kon omdraai.

“Dit was nou die tweede keer in ’n ry, en dit sê alles van die karakter van die span,” het hy gesê.

Die Vrystaters was in ’n stadium met 0-19 agter en teen die planke toe hulle 12-33 agter was, maar hulle het nie bes gegee nie.

Smith sê in die tweede helfte was daar ’n verandering in sy span se fisieke benadering en dit was die opoffering van die spelers, en dat die eer hulle toekom.

Saterdagaand se wedstryd was ook ’n baie goeie advertensie vir die Curriebeker-reeks, wat deur doemprofete as afgewater beskryf is.

“Ek dink komplimente aan almal betrokke (in die reeks). Hierdie was ’n baie mededingende reeks tot dusver. Die manier hoe al die spanne gespeel het was baie goed. Ons spelers het baie geleer en ek dink nie glad nie die reeks is afgewater nie.”

Smith daar is by sy span nog ruimte vir verbetering, veral na hulle teen die beste span in Suid-Afrika gemeet is.

Hy weet ook dat die halfeindstryd teen die Haaie ’n taai een gaan wees, en hulle sal daarvolgens voorberei.

Teen die WP het die Vrystaat ’n veggees soos min getoon en niks minder as dit gaan nodig wees in die halfeindstryd.

Spelers wat hulself laat geld die naweek, was die heelagter Clayton Blommetjies, die haker Joseph Dweba en dan was die vleuel Darren Adonis op sy allerbeste.

Die Vrystaat se Springbok-stut Ox Nche was ook onverskrokke toe hy na 25 minute opgestuur is.

Die vleuel William Small-Smith, wat die eerste keer in ’n lang tyd op senter uitgedraf het, het weer sy beste peil herwin.

Dan het die kaptein, Tian Myer, ook sy span met voorbeeld gelei in seker die belangrikste wedstryd tot nog van die seisoen.

Dit alles in ag genome, sal die wedstryd onthou word vir die vasberadenheid van ’n span wat deur niemand ’n kans gegee is om die WP te klop nie.

* Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 38 (12): Drieë: William Small-Smith, Joseph Dweba, Tian Meyer, Darren Adonis, Ox Nche, Jasper Wiese. Doelskoppe: Tian Schoeman (4).

Westelike Provinsie 33 (26): Drieë: Wilco Louw, Dillyn Leyds, Scarra Ntubeni. Doelskoppe: SP Marais (3). Strafdoele: Marais (4).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.