Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Karaktertoets wag op SA o.19-rugbyspan
Bafana Nhleko, hulpafrigter van die Junior Bokke, wat die Suid-Afrikaanse o.19-span in dieselfde hoedanigheid na Georgië vergesel. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse o.19-rugbyspan gaan ’n redelike mate van vryheid gegun word om volgens hul talente en aanvoeling te speel tydens dié span se kort toer na Georgië.

Só sê Bafana Nhleko, een van die span se hulpafrigters, wat ook in dieselfde pos by die Junior Bokke betrokke is. Die toer gee aan hom en die afrigter, Chean Roux, die geleentheid om hulle van die beskikbare talent te vergewis voor 2020 se o.20-Wêreldtoernooi in Italië.

Dit is ’n nuutjie om die spelers eerder in ’n wedstrydsituasie te toets, aangesien daar vorige jare assesseringskampe vir o.18- en o.19-spelers gehou is.

Maar dit is op die veld waar spelers gewoonlik wys of hulle die spreekwoordelike pyp kan rook of nie.

“Ons het nie baie dinge in plek gesit nie. In plaas daarvan het ons aan die spelers ’n basiese struktuur gegee van wat ons verwag. Die hele plan is om te sien hoe hulle (die spelers) hul daarbinne uitdruk,” sê Nhleko.

“Dit (die toer) sal aan ons ’n gulde geleentheid bied om ons te vergewis van die sterk- en swakpunte van die spelers. Hopelik kan ons dit as grondslag gebruik om volgende jaar op te bou.

“Die belangrike ding vir ons is om die spelers te leer ken en te sien hoe hulle koppe werk en wat hul siening van die spel is.

“Ons eintlike oogmerk met hierdie toer is om na Suid-Afrika terug te keer met ’n goeie idee van wat elke speler het om te bied. Dit sal ons in staat stel om as ’n span te groei en ook om hul swakplekke te verbeter,” sê Nhleko.

Die Junior Bokke kon laas in 2012, toe die o.20-Wêreldtoernooi op tuisbodem beslis is, met die louere wegstap.

Die laaste drie jaar het hulle elke keer derde geëindig, wat seker nie te versmaai is nie. Tog is daar diegene wat voel dat Suid-Afrika genoeg talent op dié vlak het om meer gereeld met die titel weg te stap.

’n Ander uitdaging wat op die o.19’s wag, is die heelwat kouer weer in Georgië se hoofstad, Tbilisi. Dit is wêreld verwyder van die sonskynweer wat Suid-Afrika tans beleef.

“Die weer gaan ook ’n uitdaging aan die seuns stel – iets wat ons ’n ding of twee oor hulle karakter gaan vertel,” sê Nhleko.

* Die eerste van twee wedstryde teen Georgië se o.19’s word Maandag in Tbilisi beslis.

Meer oor:  Chean Roux  |  Georgië  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.