Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Keelbesering sy Damaskus-ervaring

Hy het as ’n meer afgeronde speler en volwasse mens na die Southern Kings toe terug gekeer, sê Demetri Catrakilis.

En, sê die 30-jarige losskakel wat ses jaar gelede by die Kings weg is, hy is “vars” en weer “honger” vir rugby.

Demetri Catrakilis kan weer lag nadat hy weens ’n ernstige keelbesering deur donker tye is. Foto: Getty Images

“Daar het soveel gebeur in die tyd toe ek by die Kings weg is,” sê Catrakilis.

“Daar was hoogtepunte by die spanne vir wie ek gespeel het en ek het soveel by ander spelers en afrigters geleer.”

Catrakilis is van die Kings af terug Kaapstad toe waar hy heelwat sukses saam met die Westelike Provinsie en die Stormers behaal het. Toe is hy na Montpellier in Frankryk, waar hy die span gehelp het om die Europese Uitdaagbeker te wen. Van daar is hy na Harlequins in Engeland waar dinge so effens ontspoor het.

Die terugslag het my geleer om dankbaar te wees en dinge te waardeer.

Hy het in 2017 ’n ernstige keelbesering opgedoen, wat byna sy speeldae tot ’n einde gebring het.

“As ek nou daaraan dink, was dit ’n geskenk. Ek het dinge ervaar wat my groot lewenslesse geleer het,” sê Catrakilis.

“Die terugslag het my geleer om dankbaar te wees en dinge te waardeer. Dit het my ’n nuwe perspektief op die lewe gegee.”

Maar, sê hy, dit was ’n moeilike tyd.

Demetri Catrakilis word in September 2017 van die veld gehelp, met ’n suurstofmasker oor sy mond, ná hy ’n keelbesering in ’n wedstryd tussen die Harlequins en Gloucester in Engeland opgedoen het. Foto: Getty Images

“Ek moes eers fisiek herstel. Ek kon nie praat, eet of behoorlik asemhaal nie.”

’n Spraakterapeut en verskeie dokters het hom weer naby die veld gekry, maar toe moes hy dit weer betree.

Ek is by die Kings om die span te dien.

“Ek moes sielkundige hulp kry. Dit was baie, baie moeilik om weer rugby te begin speel,” gee hy toe.

Ná ’n paar wedstryde was hy egter weer gemaklik en nou geniet hy elke oomblik op die veld.

Demetri Catrakilis sê die vertroue wat ’n voormalige afrigter van die Kings, Alan Solomons, in hom gehad het, het baie vir hom beteken. Foto: Getty Images

“As ’n speler het ek oorsee baie lesse geleer. Een wat vir my uitstaan, is dat ek balans moet probeer vind tussen struktuur en instink,” sê Catrakilis.

“Voor ek oorsee is, was ek so gelukkig om onder goeie afrigters soos Alan Solomons en Allister Coetzee te speel. En oorsee was daar ook iemand soos Jake White (by Montpellier), wat my baie geleer het.”

Catrakilis sê egter van die mense by wie hy die meeste geleer het, was by ervare spelers in wedstryde en op die oefenveld.

“Ek kon saam met wêreldsterre soos Frans Steyn, Jean de Villiers, Jaque Fourie en Bryan Habana speel. Hulle het sekere dinge van my op die veld geëis en danksy hulle kon ek my rugby na ’n ander vlak lig,” sê hy.

“Dis wat ek nou by die Kings ook wil doen. Ek wil graag van die jonger spelers help om ook te verbeter. Ek is by die Kings om die span te dien.”

Meer oor:  Demetri Catrakilis  |  Southern Kings  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.