Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kefentse koester Loftus-tuiskoms

Hy onthou daardie droewige dag in 2017 toe hy meegedeel is die Bulle gaan nie sy kontrak hernieu nie.

Kefentse Mahlo laat loop die bal vir die Blou Bulle in ’n Curriebeker-wedstryd in 2017 teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Die vleuel Kefentse Mahlo was by Loftus Versfeld bekend daarvoor dat hy blitsig kan systap en swenk, maar hy kon nie verhoed dat die spreekwoordelike mat onder sy voete uitgepluk word nie.

Hy het daardie jaar vir die Bulle Superrugby gespeel en in die Curriebeker-kompetisie uitgedraf. Toe word daar aan die einde van die seisoen koue water oor sy aspirasies gegooi.

“Dit was ’n hengse verrassing. Dit was taai en ek was baie ontsteld, maar wat kan jy doen?

“Ek moes dit aanvaar en nuwe planne begin maak. Ek het my studies (sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria) afgehandel en aanbeweeg.

“Toe kom Covid en ek het midde-in dit alles later vrede gemaak daarmee dat ek nooit weer op die hoogste vlak sal speel nie,” sê Mahlo.

Hy het intussen in ’n gimnasium gewerk, verkope gedoen vir ’n maatskappy in Kempton Park en by sakebelange van twee voormalige Bulle-spanmaats, Duncan Matthews en Rohan Janse van Rensburg, betrokke geraak.

Dié boorling van Tzaneen het egter nie sy rugbydroom heeltemal laat vaar nie en het hom mettertyd as ’n staatmaker in die Pretoriase klubspan Naka Bulle gevestig.

Die lewe loop soms vreemde draaie en Mahlo (28) is terug in die Ligblou-trui vir Saterdagmiddag se Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld.

Met altesame 44 van die Bulle se voorste spelers wat nie vir die wedstryd beskikbaar is nie, is Mahlo net een van twee spelers in die span wat al op Curriebeker-vlak gespeel het.

Mahlo, wat verlede week weer by Loftus begin oefen het, besef terdeë dit kan ’n eenmalige meevaller wees.

“Dit was ’n wonderlike tuiskoms, as jy dit so kan noem.

“Ek het Loftus en sy mense gemis. En die geriewe.

“Moenie ’n fout maak nie, ons is baie beroepsgerig by Naka Bulle, maar niks kom naby die geriewe en hoëprestasie-omgewing by Loftus nie.”

Die WP kom met ’n sterk span Pretoria toe en dit gaan ’n moeilike affêre wees om manne soos Sergeal Petersen en Seabelo Senatla hok te slaan.

“Ja, dit gaan ’n groot beproewing wees. Ons is ’n klomp nuwe ouens bymekaar en het regtig geen ervaring nie, maar daarin lê ook ’n wonderlike geleentheid.

“As ’n ou, soos ek, iets verloor het en dan ’n tweede kans kry, maak jy die meeste daarvan. Voluit. En ek is van plan om elke oomblik te geniet.

“Die belangrikste is dat ons in ’n Bulle-trui speel. Daarmee saam kom ’n groot verantwoordelikheid.”

• Saterdag se stryd op Loftus skop om 16:00 af.

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.