Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kempson verras met span wat Munster pak

Robbi Kempson, die Southern Kings se waarnemende hoofafrigter, het oudergewoonte met ’n paar verrassings vorendag gekom toe hy sy span vir Vrydag se Pro14-wedstryd teen Munster in Cork, Ierland, aangekondig het.

Erich Cronje, hier in aksie teen die Cheetahs, skuif vir die Kings van vleuel na senter vir die kragmeting met Munster. Foto: Gallo Images

Eddie Ludick sal sy Pro14-debuut vir die Kings op linkervleuel maak, Thembelani Bholi begin op die plaasvervangersbank en die span het, heel voorspelbaar, wéér ’n ander kaptein.

Hierdie keer sal dit die slot JC Astle se beurt wees om weer eerste op die veld te draf.

Of wag, dalk draf die agtsteman Ruaan Lerm eerste op die veld, want hy sal in sy 50ste wedstryd vir die Oos-Kapenaars speel.

Maar Astle is die kaptein. Die haker Jacques du Toit, wat laas die Kings teen die Cheetahs aangevoer het, is steeds in die span.

Eddie Ludick maak sy Pro14-debuut vir die Kings op linkervleuel teen Munster. Foto: Southern Kings

Ludick is een van verskeie jongelinge in die Kings se agterlyn wat beslis deur Munster se hardebaarde beproef sal word.

Howard Mnisi is wel op toer, maar dit wil voorkom of hy in watte toegedraai word vir die Kings se kragmeting volgende week met die Scarlets.

Met Ludick op linkervleuel skuif Erich Cronje na binnesenter.

Die Kings het net twee agterspelers – Josh Allderman en Courtney Winnaar – op die plaasvervangersbank.

Met die bonsbeer Bholi en nog ’n vurige losvoorspeler, Luyolo Dapula, wat as impakspelers gekies is, lyk dit of Kempson iets in die mou voer.

Dit sal egter ’n redelike groot haas moet wees wat die breier uit sy hoed moet pluk as die Kings wil wen.

Ofskoon Munster vroeër in die seisoen gesukkel het om die Kings met 31-20 in Port Elizabeth te klop, kon die Ierse span se afrigter, Johann van Graan, weer agt spelers met toetservaring in sy beginspan kies.

Spanne

Munster: Mike Haley, Calvin Nash, Chris Farrell, Dan Goggin, Shane Daly, JJ Hanrahan, Neil Cronin, Arno Botha, John Hodnett, Jack O’Donoghue, Billy Holland (k), Fineen Wycherley, John Ryan, Niall Scannell, James Cronin. PLAASVERVANGERS: Kevin O’Byrne, Jeremy Loughman, Keynan Knox, Gavin Coombes, Chris Cloete, Nick McCarthy, Ben Healy, Rory Scannell.

Southern Kings: Andell Loubser, Christopher Hollis, S’bura Sithole, Erich Cronje, Eddie Ludick, Demetri Catrakilis, Stefan Ungerer, Ruaan Lerm, Bobby de Wee, Lusanda Badiyana, JC Astle (k), Jerry Sexton, Rossouw de Klerk, Jacques du Toit, Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Alandre van Rooyen, Xandre Vos, Ig Prinsloo, Aston Fortuin, Thembelani Bholi, Luyolo Dapula, Josh Allderman, Courtney Winnaar.

  • Skeidsregter: Nika Amashukeli (Georgië).
  • Afskop: 21:35.
  • TV: SuperSport 1.


Meer oor:  Munster  |  Pro14  |  Robbi Kempson  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.