Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kies Simelane op heelagter, stel Swys voor

Wandisile Simelane se beste posisie is heelagter, sê sy voormalige Leeus-afrigter, Swys de Bruin.

Dié 22-jarige voormalige Junior Springbok het sy kontrak vandeesweek vir die volgende twee jaar by die Leeus verleng, ondanks die feit dat hy tot dusver vanjaar grootliks oor die hoof gesien is as buitesenter.

Wandisile Simelane is volgens Swys de Bruin ’n uitstekende teenaanvaller. Foto: Gallo Images

“Wandi is ’n baie goeie speler en hy hou daarvan om in spasie te beweeg, maar hy sukkel soms op buitesenter.

“Dit is ook die moeilikste posisie om in te verdedig en dit is waarom sy verdediging nie altyd na wense is nie,” sê De Bruin.

“Ek glo hy sal op sy beste wees en werklik tot sy reg kom indien hy heelagter speel. Hy is uitstekend as teenaanvaller en beskik ook oor ’n baie goeie skopvoet.

“Ek het dit al verskeie kere aan hom en sy agent voorgestel, maar hulle wil nie daarby inkoop nie,” sê De Bruin.

Simelane se agent, Craig Livingstone, het Vrydag bevestig dat hy aanbiedinge van die Haaie en Westelike Provinsie ontvang het, maar dat daar uiteindelik besluit is dat dit in sy beste belang sal wees om in Johannesburg en by die Leeus te bly.

Ek glo hy sal op sy beste wees en werklik tot sy reg kom indien hy heelagter speel.

Simelane kan voel hy is vanjaar nog baie stief behandel by die Leeus, aangesien hy net in een van hul ses Superwedstryde in die beginspan was en net in twee ander op die plaasvervangerbank gebruik is.

Gerugte uit die Kaap wil dit hê dat hierdie speler glo sy ontevredenheid met die situasie in ’n brief aan die Leeus bekend gemaak het en dat hy gretig was om die unie te verlaat, maar dit word hewig ontken deur die Leeus.

Livingstone het gesê hy is hoopvol dat Simelane nou meer speelkans by die Leeus sal kry as buitesenter noudat hy weer sy handtekening op ’n kontrak geplaas het, “maar soos dinge nou maar altyd gaan, is daar geen waarborg daarvoor nie,” het hy gesê.

De Bruin is van mening dat die voormalige Bulle-speler Divan Rossouw ’n goeie kopie vir die Leeus is.

Volgens hom is hierdie heelagter/vleuel ’n uitstekende speler wat verlede jaar ’n uitstaande seisoen by die Ligbloues gehad het.

Meer oor:  Wandisile Simelane  |  Swys De Bruin  |  Goue Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.