Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings-heelagter nie bang vir eendeweer

Dit lyk of dit Saterdag in Belfast, Ierland – waar die Southern Kings in ’n Pro14-wedstryd teen Ulster gaan speel – gaan reën.

Dis dus byna ’n uitgemaakte saak dat Ulrich Beyers vir die Oos-Kapenaars op heelagter gaan uitdraf.

Ulrich Beyers het sover goeie spel vir die Kings op heelagter in nat toestande gelewer. Foto: Gallo Images

Dit het ’n tydjie geneem vir Beyers om plek in die Kings se beginspan te kry, maar vir nou klink dit of die nr. 15-trui syne is.

Wel, vir wedstryde in Europa waar dit nat en koud is. Terug in Suid-Afrika op harde, droë velde kan dit dalk weer Masixole Banda wees wat in die laaste vesting sal diens doen.

“Ons kyk hoe ons die spelers kan bestuur,” sê Deon Davids, die Kings se hoofafrigter.

“Banda kan verwoestend wees op harde, droë velde. Hy het wel al goed vertoon op die nat velde, maar dalk pas daardie soort toestande iemand soos Ulrich (Beyers) beter.

“Ulrich is lank en hy is goed onder die hoë bal. Hy is ’n goeie verdediger.”

Beyers het in die Kings se twee laaste wedstryde oorsee heelagter gespeel en hom goed van sy taak gekwyt.

Die 28-jarige Beyers het met ’n redelike groot reputasie van die Bulle af Port Elizabeth toe gekom.

Masixole Banda kan spanne stukkend hardloop van agter af as hy die dag op dreef is. Foto: Gallo Images

Hy het egter nie sommer net by die beginspan ingestap nie.

“Dit was nogal frustrerend om nie in die beginspan te wees nie, maar ek het in die verlede al geleer om die groter prentjie te probeer sien,” sê Beyers.

“Toe ek hier (Port Elizabeth) gekom het, het ons met een of twee probleme op losskakel gesukkel en die plan was aanvanklik dat (Masixole) Banda meer op 10 sou speel en ek op 15.

“Toe dit nie so uitwerk nie, was ek die een wat uitgemis het.”

Beyers sê hy het hom nie daardeur laat onderkry nie.

“Die afrigter kan net ’n sekere aantal spelers kies. As ek nou terugkyk, voel ek dat ek dalk tog op die regte oomblik gekies is.

“Ek het in die laaste jaar en ’n half ’n kuit geskeur, my kwadriseps geskeur en ’n skoueroperasie gehad.”

Dit alles kon ’n invloed op sy spel en sy selfvertroue gehad het.

Tans is Beyers egter goed op dreef en hoop hy om in die laaste paar wedstryde hierdie seisoen ’n grondslag te lê waarop hy volgende seisoen kan bou.

By die Bulle is Beyers ook gereeld op buitesenter gekies, maar hy verkies dit om heelagter te speel.

“Ek gee nie regtig om as ek tussen die twee posisies skuif nie, maar dis al twee spesialis-posisies en dis beter as jy weekliks in net een van hulle speel,” sê hy.

Meer oor:  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.