Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings is ‘kaal’; spelers kry g’n duit

Die afrigters en spelers van die Kings hou asem op of hulle oor vyf dae salarisse sal ontvang nadat die raad van SA Super Rugby (Edms.) Bpk., wat as die Southern Kings handel dryf, die insolvente maatskappy in vrywillige likwidasie geplaas het. Dis gedoen om die langtermyn- finansiële toekoms van rugby in die Oostelike Provinsie te verseker.

Die aandeelhouers – die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) en SA Rugby – het die besluit geneem in die lig van ’n opgehoopte tekort van R55 miljoen en met geen inkomste in die vooruitsig vir die res van 2020 nie.

“Ek glo nie hulle sal salarisse kry nie,” het ’n onberispelike bron gesê.

Nog ’n ingeligte met wie Rapport gepraat het, het gesê die spelers en afrigters het verlede maand hul laaste salaris ontvang.

“Hulle sal nie weer betaal word nie,” het die bron gesê.

“Dis nou ’n proses om vir al die ouens elders ’n geleentheid te kry. Dit gaan nie maklik wees nie.

“Hulle probeer nou al sedert hulle gehoor het die Kings is nie deel van die Curriebeker nie om vir hul elders speelplek te kry.

“Dis nou interessante tye wat vir die manne voorlê.”

Dit sou roekeloos van die direksie wees om aan te hou handel dryf.

’n Administrateur het aan Rapport gesê hulle het aan die spelers en afrigters belowe dat hulle eers môre met alle betrokke partye en rolspelers sal onderhandel voordat hulle enige beloftes oor salarisse maak.

André Rademan
André Rademan Foto: Michael Sheehan/Gallo Images

André Rademan, voorsitter van die raad, het gesê die harde feite is dat die Kings insolvent is, met aansienlike skuld en geen bates nie.

“Dit sou roekeloos van die direksie wees om aan te hou handel dryf,” het Rademan gesê.

“Die voortsetting daarvan sou lenings van die OPRU vereis en lenings bykomend tot die R45 miljoen wat die maatskappy reeds aan SA Rugby skuld.

“In die afwesigheid van rugby in 2020, en sonder enige waarborge met betrekking tot inkomstevooruitsigte vir 2021, sou dit finansieel onverantwoordelik wees van die aandeelhouers om verdere finansiering in te pomp.”

Mark Alexander, president van SA Rugby, het gesê dat dit geen opsie was om bykomende krediet aan ’n insolvente entiteit toe te ken op ’n tydstip waarin die rugbybedryf ’n besparing van R1,2 miljard moet maak nie.

“Die geskiedenis van die Kings is een van verwagtinge en afwagting, maar ongelukkig kan die parallelle verhaal van mislukkings nie langer weggewens word nie,” het Alexander gesê.

Meer oor:  Salarisse  |  André Rademan  |  Kings  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.