Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings-kaptein kry in Frankryk ’n heenkome
JC Astle gaan binnekort speelkans kry by ’n Franse klub. Die Kings se kaptein is nie ’n nuwe kontrak aangebied nie. Foto: Gallo Images

Die Southern Kings se kaptein, die slot JC Astle, is besig om sy tasse te pak om in Frankryk te gaan rugby speel.

Astle (29) het hierdie week gehoor dat hy as “medical joker” (’n plaasvervanger vir ’n gekontrakteerde speler met ’n langtermynbesering) by Rouen Normandie benodig word.

“Die klub benodig my vir minstens ses maande, so dit is nogal ’n verligting omdat die Kings my nie meer hierdie jaar kan kontrakteer nie,” sê Astle.

Dit is nogal ’n verligting omdat die Kings my nie meer hierdie jaar kan kontrakteer nie.
JC Astle

Astle, die voorryman Schalk Ferreira en die skrumskakel Stefan Ungerer het die afgelope paar weke nog vir die Kings gewag om vir hulle kontrakte aan te bied.

Dinsdag se nuus dat die Kings weens ekonomiese oorwegings nie vanjaar aan enige reekse gaan deelneem nie, het daardie hoop natuurlik laat verdwyn.

“Ek verstaan die Kings-spelers wat wel kontrakte het, sal hul salarisse kry, maar hulle sal nie kan speel nie en dit is tog wat hulle wil doen,” sê Astle.

Astle, Ferreira en Ungerer het nie die afgelope paar weke saam met die gekontrakteerde spelers geoefen nie.

Omdat hulle drie dus op hul eie geoefen het, is hulle in Port Elizabeth “die drie musketiers” genoem.

Schalk Ferreira hoop om in JC Astle se spore na Frankryk te volg. Foto: Gallo Images
Stefan Ungerer is nes Schalk Ferreira sonder ’n kontrak, maar reg om enige plek te gaan rugby speel. Foto: Gallo Images

Ferreira, op 36-jarige ouderdom die oudste musketier, sê hy hoop om ook in Frankryk as medical joker geholpe te raak.

Hy is juis in 2013 as een na Toulouse ontbied en het toe so goed vertoon, dat die klub hom vir drie seisoene laat aanbly het.

Ungerer (26) sit nes Ferreira maar en duimvashou dat hy iewers gekontrakteer sal word.

“Die afgelope paar weke was nie maklik nie. Dit het groot toetse aan ’n ou gestel,” sê Ungerer, wat ook al vir die Haaie en die Pumas gespeel het.

Om in Frankryk klubrugby te speel, sal nie vir Astle iets nuuts wees nie.

Hy het van 2016 tot 2018 vir Mont-de-Marsan uitgedraf en sê hy is dié keer minder senuagtig oor die skuif, omdat hy weet wat om te verwag.

“My vrou (Rouxlene) sal nog ’n rukkie in Port Elizabeth werk voor sy haar by my in Frankryk sal aansluit,” sê Astle.

Sy afrigter by Rouen Normandie sal die voormalige Engelse losvoorspeler Richard Hill wees.

“Ek het regtig nog gehoop om hierdie seisoen vir die Kings te speel en ek voel regtig baie jammer vir die ouens wat nou moet uitsit,” sê Astle.

Ek het regtig nog gehoop om hierdie seisoen vir die Kings te speel en ek voel regtig baie jammer vir die ouens wat nou moet uitsit.
JC Astle

“Ek hoop darem ’n paar van hulle, soos Elrigh (Louw) en Yaw (Penxe) kry darem iewers speelkans.

“Hierdie ding is nie goed vir rugby in die Oos-Kaap nie. Ons sal maar moet sien wat vorentoe gebeur.

“Ek het darem nou ’n bietjie tyd om weer aan die gang te kom en op ’n kalm wyse vir die toekoms te beplan.”

Meer oor:  Jc Astle  |  Schalk Ferreira  |  Stefan Ungerer  |  Port Elizabeth  |  Frankryk  |  Kontrak  |  Haker  |  Klubrugby  |  Europa  |  Kings  |  Rugby  |  Pro14
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.