Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings kry raas oor gepoer-poer met hoë skoppe
Die Kings-skrumskakel Stefan Ungerer laat waai met ’n skop verlede naweek teen Munster.Foto: Gallo Images

Hy glo die res van die Southern Kings sal hierdie naweek sy skoppe beter jaag, sê dié span se skrumskakel Stefan Ungerer.

Die Kings speel Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion in hul derde Pro14-wedstryd van die seisoen teen Ulster.

Verlede naweek in die Baai het die Kings nie Ungerer se hoë skoppe juis met geweldige entoesiasme in die kragmeting met Munster gejaag nie.

“Die cliché dat ’n skop net so goed is as wat die jaagtog dit maak, is waar,” sê die 25-jarige Ungerer.

“Party van die skoppe was dalk nie die regte tipe skoppe nie, maar dit is so, jy het ’n goeie jaagtog nodig.”

En, sê Ungerer, dit is weer by die spelers ingedril toe die breiers terugvoering oor die Munster-wedstryd – wat die Kings met 20-31 verloor het – gegee het.

Ons het ook hierdie week hard aan ons vaardighede onder skoppe gewerk wanneer dit by die vangwerk en mededinging vir die bal kom.
Stefan Ungerer

“Ons het ook hierdie week hard aan ons vaardighede onder skoppe gewerk wanneer dit by die vangwerk en mededinging vir die bal kom,” sê Ungerer.

Skopwerk was nog altyd een van Ungerer se sterkpunte, maar hy voel tog dat hy die afgelope tyd verbeter het.

“Ek werk hard saam met Braam (van Straaten, die skop-afrigter) aan my skopwerk. Sy insette is vir die hele span van waarde,” sê Ungerer.

In die paar wedstryde sover vanjaar staan die Kings se vaste skrums ook stewiger, wat dinge vir die skrumskakel veel makliker maak as by tye verlede seisoen.

“Dis wonderlik om skoon balle te kry en nie die hele tyd onder druk te wees nie, dit gee my ook die geleentheid om meer dinge te probeer,” sê Ungerer.

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter, het Stefan Ungerer sy nommereen-skrumskakel gemaak.Foto: Gallo Images

Hy is tans een van die leiers in die Kings se span en sê die vertroue wat die waarnemende hoofafrigter, Robbi Kempson, in hom toon, gee hom baie selfvertroue.

“Dis amper asof die bal ook meer vir jou reg spring as iemand soveel vertroue in jou toon,” reken Ungerer.

“Ek vind dit ook fantasties om saam met ’n ervare losskakel soos Demetri Catrakilis te speel.

“Hy praat baie op die veld en help ook dat ek ’n beter vertoning kan lewer.”

Die Kings se kragmeting met Ulster begin Saterdag om 16:00.

Meer oor:  Stefan Ungerer  |  Robbi Kempson  |  Port Elizabeth  |  Skoppe  |  Pro14-Reeks  |  Southern Kings  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.