Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skakelpaar moet Cheetahs tem

’n Nuwe skakelpaar moet help om die Southern Kings ’n bietjie woema agterlangs te gee teen die Cheetahs.

Rowan Gouws begin Saterdag in Port Elizabeth teen die Cheetahs vir ’n slag op skrumskakel vir die Kings. Foto: Gallo Images

Die Kings se wyse manne het Rowan Gouws op skrumskakel en Oliver Zono op losskakel gekies vir Saterdag se Pro14-wedstryd teen die Cheetahs in Port Elizabeth se Nelson Mandelabaai-stadion.

Gouws vervang Poerie van Rooyen en Zono is terug ten koste van Kurt Coleman.

Coleman sukkel met ’n beenbesering, maar die verwagting was in elk geval dat Zono – wat vroeër weens harsingskudding buite aksie was – teen die Cheetahs sou terugkeer.

Dié twee veranderinge is twee van sewe aan die Kings se beginspan wat verlede week teen Edinburgh uitgedraf het.

Een van dié veranderinge is ’n posisionele een, met Yaw Penxe wat van linkervleuel na heelagter skuif.

Hoe wys dié skuif was, sal maar gesien moet word aangesien Penxe onlangs ook op heelagter vir die Kings wisselvallige spel gelewer het.

Anthony Volmink, wat weens persoonlike redes nie teen Edinburgh beskikbaar was nie, is nou die linkervleuel.

Op regtervleuel vervang Michael Makase vir Alshaun Bock.

Makase, wat die kragmerting met Edinburgh weens ’n seer dyspier gemis het, sal dus nou na verwagting sy ou Grens-spanmaat Makazole Mapimpi as direkte teenstander hê.

In die agttal keer Stephan Greeff en Bobby de Wee as slotpaar terug ten koste van Lindokuhle Welemu en Dries van Schalkwyk.

Die hardwerkende Bobby de Wee is vir die Kings terug op slot.Foto: Gallo Images

Die Kings beleef ook tans ’n redelike stut-krisis, met Rossouw de Klerk (knie) en Martin Dreyer (kuit) wat beseer is.

Dayan van der Westhuizen van die Blou Bulle en Johan Smith van die Luiperds het hulle vandeesweek by die Oos-Kaapse span aangesluit en is as plaasvervangers gekies.

Michael Willemse, wat die Kings aangevoer het tot hy ’n maagspierbesering opgedoen het, maak ook ’n welkome terugkeer op die bank.

“Dis fantasties om hom (Willemse) terug te hê. Hy is ’n goeie leier en speel saam met Schalk Ferreira (die huidige kaptein) ’n ontsettende groot rol in die span,” sê Deon Davids, die Kings se hoofafrigter.

“Dis gerusstellend om te weet jy het iemand soos hy wat in die tweede helfte kan opdraf en die toutjies bymekaar trek.

“Dis ook gerusstellend vir die jonger spelers en die nuwe ouens in die groep om hom daar te hê.”

Davids sê hy het ’n idee van hoe lank hy Willemse graag sal wil laat speel, maar hy sal hom deur die gebeure op die veld laat lei.

Southern Kings:
Yaw Penxe, Michael Makase, Berton Klaasen, Martin du Toit, Anthony Volmink, Oliver Zono, Rowan Gouws, Ruaan Lerm, Tienie Burger, Eital Bredenkamp, Bobby de Wee, Stephan Greeff, Pieter Scholtz, Stephan Coetzee, Schalk Ferreira (k). PLAASVERVANGERS: Michael Willemse, Johan Smith, Dayan van der Westhuizen, Lindokuhle Welemu, Freddy Ngoza, Poerie van Rooyen, Ntabeni Dukisa, Harlon Klaasen.

Meer oor:  Cheetahs  |  Pro14-Reeks  |  Southern Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.