Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings 'reg vir Cheetahs as hulle wil boks'

As die Cheetahs wil boks, is die Southern Kings bereid om kop teen kop teen hulle te staan en dit te doen.

Ruaan Lerm storm vir die doellyn met ’n paar Cheetahs wat hom met mening daar probeer weghou.Foto: Gallo Images

So sê ’n woedende Robbi Kempson, waarnemende hoof-afrigter van die Kings, ná sy span se nederlaag van 30-31 Saterdag teen die Cheetahs in Port Elizabeth.

’n Kenmerk van dié taai Pro14-wedstryd was die kwade gevoelens tussen sommige spelers wat gereeld tot uitbarstings gelei het.

Volgens Kempson het die vitterigheid van die Cheetahs, en meer spesifiek van Sintu Manjezi (een van die Vrystaters se slotte), af gekom.

“Die wyse hoe hy (Manjezi) opgetree het, was walglik en die skeidsregter het hom toegelaat om daarmee weg te kom,” sê Kempson.

Manjezi was een van die Cheetahs se uitblinkers en het twee drieë gedruk. Hy was egter ook gereeld in ’n geplukkery of in woordewisselings met Kings-spelers betrokke.

Dit was veral hy en Ruaan Lerm, een van die Kings se flanke, wat met mekaar vasgesit het.

Die vyandigheid tussen dié twee spelers kom al ’n lang pad.

’n Paar seisoene gelede, toe Manjezi nog by die Kings was, het hulle gedurende ’n oefening bolle gerol.

Sintu Manjezi, die Cheetah-slot wat die afgelope Saterdag in ’n knorrige bui in die Baai was. Foto: Gallo Images

Saterdag toe Lerm een van die Cheetahs se flanke, Junior Pokomela, ’n stamp gee, het Manjezi dadelik tussenbeide getree.

Pokomela is natuurlik ook ’n voormalige Baaienaar. Hy en Manjezi het ’n paar jaar gelede vir Kempson gespeel toe hy nog die Oostelike Provinsie afgerig het.

“As dit is hoe hulle (die Cheetahs) die spel wil speel, dan kan my span presies dieselfde doen. Ek is baie gemaklik met konfrontasie en hulle kan dit volgende week in ’n erger graad verwag,” sê Kempson.

“Die tyd dat ons (die Kings) terugstaan en week ná week deur ander spanne mishandel word, is verby. As hulle wil boks, is ons meer as tevrede om kop teen kop te staan en dit te doen.”

Kempson sê ook sy spelers was “baie harder” as die Cheetahs.

“Jy kon dit sien deur te kyk hoeveel van hulle van die veld af gegaan het vir behandeling,” sê hy.

Hawies Fourie, die Cheetahs se breier, gee toe dat die Kings “veral in die eerste helfte” die “kontakpunte en die verdediging” oorheers het.

Volgens hom het hy “altyd ’n honde-geveg” in die Baai verwag, maar hoop hy nie dat die nydigheid tussen sommige spelers na komende Saterdag se herontmoeting in Bloemfontein oorspoel nie.

“Daar is altyd ’n bietjie byt tussen ouens wat mekaar ken. “Dit (die opstootjies) was nie so erg nie en hopelik sal die fokus meer op die spel wees en sal die ouens hul persoonlike geskille van die veld af los,” sê Fourie.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.