Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings se haker-spens effens leeg

Die Southern Kings, wat volgende week hul eerste opwarmingswedstryd van die nuwe seisoen speel, het net twee fikse hakers, maar Robbi Kempson, hul instaan-afrigter, sê hy is nie daaroor senuagtig nie.

Die Kings vertrek Saterdag na Georgië vir hul kragmeting Dinsdag met die land se Wêreldbeker-span in Tbilisi.

Alandré van Rooyen, die Kings se eerstekeusehaker. Foto: Gallo Images

Alandré van Rooyen en Gareth Heidtmann sal die hakers wees wat Georgië sal aandurf.

Die 20-jarige Heidtmann het net ’n junior kontrak by die Kings.

Hy kry sy kans omdat Tango Balekile, die Kings se ander ervare haker, las van ’n enkelbesering het.

“Dis nie die ideale posisie om in te wees nie. Ons soek beslis nog ’n haker, maar in hierdie stadium het ek vertroue in Alandré en Gareth,” sê Kempson.

Heidtmann, wat in Queen’s College op skool was, sê hy is “opgewonde en ’n bietjie senuagtig” oor sy kans.

Tango Balekile sukkel met ’n voetbesering. Foto: Gallo Images

“Ek sal alles gee en my kans probeer aangryp,” belowe hy.

Heidtmann het in 2016 saam met drie ander spelers in die Kings se groep vir Grens se Cravenweekspan gespeel.

Die voorryman Alulutho Tshakweni het reeds ’n senior kontrak en die slot Aaron Brody en senter Chris Hollis het nes Heidtmann junior kontrakte.

Volgens Kempson het hy by ander unies navraag gedoen vir nog ’n haker wat hy kon leen, maar niemand kon hom help nie.

“Ons kan dalk iewers vorentoe vir Duan du Plessis (Oostelike Provinsie haker) oproep indien die nood druk,” sê Kempson.

“Die OP speel egter self hierdie naweek in die Eersteliga-halfeindronde teen die Griffons.”

Die OP het ook haker-probleme, met Du Plessis wat die afgelope naweek ’n skouerbesering teen die Valke opgedoen het.

Nog ’n OP-haker, Mihlali Mpafi, het sy hand ’n paar weke gelede teen Grens gebreek.

In dieselfde wedstryd het die OP se plaasvervangerhaker, Tembekile Boltina, ’n enkelbesering opgedoen.

Boltina kan dalk betyds herstel om hierdie naweek die Griffons aan te durf.

“As die nood regtig druk, kan ons altyd vir Pummies (die voorryman Lupumlo Mguca) op haker gebruik,” sê Kempson.

“Dit lyk darem ook of Balekile se voetbesering hom nie té lank langs die kantlyn sal hou nie.

Volgens Kempson sal die Cheetahs-haker Jacques du Toit eers ná die Curriebeker-reeks by die Kings aansluit.

Hy wag ook nog om te hoor of die Springbok-haker Bongi Mbonambi die Kings se aanbod gaan aanvaar.

“As hy dit doen, sal hy in elk geval eers ná die Wêreldbeker-toernooi na Port Elizabeth kom,” sê Kempson.

Volgens hom klink dit of die Leeus ook nou in Mbonambi belangstel.

“So, ons wag maar en kyk wat hy besluit,” sê Kempson.

Meer oor:  Haker  |  Pro14  |  Kings  |  Georgië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.