Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings se Isuzu-borgskap glo in weegskaal

Dit gaan mooipraat van die Southern Kings se nuwe base kos om Isuzu as borg van dié franchise se rugbyspan te behou.

Daar het reeds verlede week gerugte die ronde begin doen dat Isuzu sy borgskap aan die Kings wil staak.

Daar sal maar gesien moet word of Isuzu se naam steeds in die toekoms as borg op die Kings se truie gaan verskyn. Hier is die knap agterspeler S’bura Sithole. Foto: Gallo Images

Daar is glo ’n klousule in dié motormaatskappy se kontrak wat hom uit sy borgskap met die Kings kan laat kom indien die franchise te veel negatiewe publisiteit kry.

Daarvan was daar die afgelope jaar baie van, met individuele lede van die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) wat die Kings se vorige base, The Greatest Rugby Union in the Whole Wide World (GRC), kwaai aangevat het.

Die Kings se onlangse kontantvloeiprobleme, wat daartoe gelei het dat spelers se salarisse laat betaal is, was dalk die laaste strooi.

Daar kon nog nie by die Kings of Isuzu amptelike bevestiging gekry word oor die wankelende borgskap nie.

“Ons borgskap-kontrak met die Kings is vertroulik. Enige gesprekke aangaande die kontrak sal direk met die aandeelhouers van die franchise gevoer word en ons is daarom nie in hierdie stadium in staat om enigiets verder te sê nie,” het Denise van Huyssteen, ’n regsbeampte gemoeid met Isuzu se korporatiewe sake en besigheidstrategie, in antwoord op navrae gesê.

Alle navrae weg van die veld af aangaande die Kings moet tans aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gerig word en ’n woordvoerder van Saru het gesê daar kan nie in hierdie stadium op die gerug gereageer word nie.

’n Bron na aan die Kings het egter gesê dat Isuzu die franchise laat weet het dat hy nie van plan is om die span aan te hou borg nie.

Van die geborgde voertuie wat Isuzu aan die franchise geleen het, is glo reeds teruggeneem.

Die Kings het ook hul webwerf vroeg vanoggend van “Isuzu Southern Kings” na “Southern Kings” verander.

Daar is glo steeds ’n kans dat die nuwe Kings-raad, bestaande uit André Rademan (die president van die OPRU), Mbulelo Gidane (voorsitter van die OPRU se finansiële en mensehulpbronne-komitee), Monde Tabata en Jannie Louw (Saru) en Gugu Nxiweni (’n onafhanklike lid), Isuzu tot ander insigte kan bring.

Rademan-hulle sal sekerlik daarop wys dat Bantwini Matika, ’n voormalige ondervoorsitter van die OPRU, nie meer by die unie of die Kings betrokke is nie.

Dit was Matika wat verlede jaar gal gebraak het oor die moontlike aanstelling van die voormalige Springbok-afrigter Nick Mallett as konsultant by die Kings.

Van daar af het die verhouding tussen die GRC en die OPRU versleg.

Die GRC se 74% aandele in die Kings is intussen deur Saru teruggeneem. Die OPRU is met 26% die minderheidsaandeelhouer in die Kings.

Meer oor:  Isuzu  |  Borgskap  |  Opru  |  Oostelike Provinsie Rugbyunie  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.