Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings se rondomtalie duur voort

Die Southern Kings draf Saterdag in Newport, Wallis, met hul vyfde kaptein in agt wedstryde op die veld.

Howard Mnisi sal die Kings in hul Pro14-wedstryd teen die Ospreys in die Liberty-stadion aanvoer.

Nuwe leier: Die ervare senter Howard Mnisi sal die Kings Saterdag in Wallis teen die Ospreys op die veld lei. Foto: Gallo Images

Dié ervare senter volg in die spore van Stefan Ungerer, JC Astle, Lusanda Badiyana en Ruaan Lerm as kaptein van die Oos-Kapenaars.

Lerm, wat die Kings in verlede week se nederlaag van 0-50 teen die Glasgow Warriors gelei het, skuif af plaasvervangersbank toe.

Sy plek in die beginspan as agtsteman word deur die belowende Elrigh Louw, wat sover goed vertoon het wanneer hy as impakspeler opgestuur is, ingeneem.

Ungerer, Astle en Badiyana sukkel tans almal met een of ander skeet of siekte.

“Ons is gelukkig om Howard in die span terug te kry. Hy is nog van die begin af deel van ons leiersgroep en bring baie kalmte en ervaring na die span,” sê Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter.

Mnisi, wat Tertius Kruger in die beginspan vervang, het self ’n tyd lank met ’n beenbesering gesukkel voordat hy verlede week weer nader geroep is.

Behalwe vir Mnisi en Louw se keuses is daar nog drie veranderinge aan die beginspan.

Scott van Breda vervang Msixole Banda op heelagter, Josiah Twum-Boafo vir Sibusiso Sithole op linkervleuel en Jerry Sexton vir Aston Fortuin op slot.

Dit klink of Lerm en Sithole die prys betaal het vir die geelkaarte wat hulle teen die Warriors gekry het.

Fortuin is volgens Kempson sover die Kings se beste slot, maar is ’n bietjie tam en is dié keer vir eers op die plaasvervangersbank.

Met die verwagte koue en nat weer voel Kempson meer gemaklik om met Van Breda as met Banda op heelagter te begin.

“Hy (Van Breda) en Sarel Pretorius (die plaasvervanger-skrumskakel) ken sulke toestande en kan belangrike rolle vir ons in die wedstryd vervul,” sê Kempson.

Swaar reën en ’n temperatuur van niks hoër as 5 grade Celsius nie, word vir Saterdagaand in Newport voorspel.

* Spanne:

Ospreys: Cai Evans, Hanno Dirksen, Tiaan Thomas-Wheeler, Scott Williams, Lesley Klim, Luke Price, Shaun Venter, Morgan Morris, Olly Cracknell, Dan Lydiate (k), Lloyd Ashley, Marvin Orie, Tom Botha, Scott Otten, Rhodri Jones. PLAASVERVANGERS: Sam Parry, Gareth Thomas, Ma’afu Fia, Guido Volpi, Sam Cross, Matthew Aubrey, James Hook, Tom Williams.

Southern Kings: Scott van Breda, Christopher Hollis, Erich Cronje, Howard Mnisi (k), Josiah Twum-Boafo, JT Jackson, Josh Allderman, Elrigh Louw, Thembelani Bholi, Tienie Burger, Bobby de Wee, Jerry Sexton, Pieter Scholtz, Jacques du Toit, Juan Schoeman. PLAASVERVANGERS: Alandre van Rooyen, Xandre Vos, Lupumlo Mguca, Aston Fortuin, Ruaan Lerm, Sarel Pretorius, Siya Masuku, Sibusiso Sithole.

Skeidsregter: Andrea Piardi.

Afskop: 17:00.

TV: SS 1.

Meer oor:  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.